Sunday, 3 July 2016
Monday, 21 March 2016
Tuis in my lyf.
Geskryf deur Carna van Zyl.
Maart 2016
My dagboek is vir my kosbaar. Daarin hou ek tred van ons elke dag se doen en late, skryf kortliks hoe ek voel, wat ek beleef. Met die aanpassing in 'n veranderdeleefwêreld die afgelope jaar het die daaglikse skryfroetine, stabiliteit help bring, en heel prakties gehelp om nuwe name en gesigte te onthou. In 'n poging om 'n meer geïntegreerde lewe te lei het ek weggedoen met 'n aparte geestelike joernaal, en leef al my inskrywings gelukkig saam op een bladsy. Selfs my geldelike uitgawes kry regs onder in die bladsy geringe aandag.
Dit alles doen ek in 'n groot A4 dagboek; 'n bladsy vir elke dag. Eintlik ontwerp vir besigheidsmense, want Saterdag en Sondag moet 'n bladsy deel, wat my soms frustreer. Ook inhibeer die rigiede lyntjies my soms, en my behoefte aan kreatiewiteit bevredig ek met die plak van prente, gesegdes en als wat werd is om te vertoon en onthou te word.
Genoeg om te erken: die perfekte dagboek moet nog ontwerp word!
Twintigsestien was te vinnig op my, sodat Bertus inderhaas die helder oranje dagboek vir my koop. Onaansienlik. Al wat oor was teen middel Januarie, maar steeds nie op halfprys nie! Ek gaan hom nog oortrek met 'n stuk mooi lap! Maar intussen kan niemand my skree oranje dagboek op die lessenaar miskyk nie.
En Tussen die blaaie? My lewe. In mý woorde.
Hier vind ek my stem.
So nooi 'n nuwe vriendin my om te kom leer van "creative journaling". Ek is aanvanklik bietjie steeks skepties, maar gedagtig aan my behoefte vir meer kreatiewe vryheid in my dagboek, en die belofte van nuwe mense ontmoet, stap ek Woensdag oggend in by die Craft Shoppie oorkant die plein in Bredasdorp. Riana verwelkom ons met 'n cappuccino en ons maak ons tuis rondom om die groot tafel in die middel van die klein winkeltjie. Bewapen met penne, papier en prit vir prente plak, begin elkeen uitdrukking gee aan wat sy hoor, dink en voel rondom die tema van die dag: Jy is uniek.
Vir 'n begin ek kies donker swartgrys sugarpaper as agtergrond. 'n Ongewone swart en wit foto praat met my... Is dit die breë glimlagte? Die donker en wit polkadot rok? Sy lyk so tuis in haar lyf...
My gedagtes neem hul eie loop. Nuwe gedagtes kring wyer as die A4 collage, vloei verder as die bladsye van my oranje dagboek. En begeesterd begin ek skryf op die nuwe tweedehandse tablet, 'n geskenk van my tegnologie boffin seun. Die moontlikheid om hierdie gedagtes met jou en die wye wêreld daar buite te deel, lê gemaklik bereikbaar onder my vingers…
- - -
Saam met jou het ek tot satwordens toe gelees oor die geweld op ons kampusse. Op hierdie einste tablet geluister na Lovelyn se toespraak by Maties se konvokasie. En probeer verstaan wat Breyten met sy gevleuelde woorde wou tuisbring! Met 'n hart wat ineenkrimp gekyk na die woede op die Kovsie rugbyveld. Met 'n knop in die keel gekyk na die foto's van Tukkiestudente wat saam knielend bid vir vrede. Geskok geskrik vir die onbeheersde woordwoede op Facebook in antwoord op Max se oproep tot ons Afrikaner jeug om nie in geweld te reageer nie.
Saam met jou probeer ek sin maak van die wrede opvlam van rassehaat in ons Reënboognasie; probeer ek verstaan, probeer ek vrede kry, probeer ek vasstel wat my rol is.
Riana se woorde uit Hooglied 4:7 weerklink in my ore. Jy is uniek.
Ek is uniek. Kunstig aan mekaar geweef. Op wonderbaarlike wyse geskep na Sy beeld. Ek en jy.
Glo dit! Jy én ek!
Glo dit liewe langbeen meisiekind en stuur daai knaap in sy maai in wat jou kunstig geweefde lyfie stukkend wil skeur! Wéét jy is kosbaar! Of het niemand dit vir jou gesê nie? Was jou pa nie daar om vir jou te vertel dat jy sy pragtige meisiekind is nie? Was hy dalk ver weg op die myne, toe hy vir jou moes leer dat jy bekoorlik is?
Onlangs stop ons op 'n wit warm Saterdagmiddag by 'n supermark in Noord Natal opsoek na 'n koel lafenis. Die Zoeloe man agter die kasregister is verbaas om 'n wit vrou tussen die baie baie swart klante te sien. Hy is bot ongeskik met my. Ek betaal, hou my beurs stewiger vas en loop uit, dankbaar toe ons veilig verder kan ry. Ek sit in stilte en dink: meneer wat doen jy in die hokkie agter daai geldlaai? 'n Groot sterk Zoeloe man soos jy is mos geskep om buite fisies besig te wees. G'n wonder dat jy gefrustreerd is nie. En vanaand is jy steeds 'n gevangene in 'n sink kaya waar goedkoop leë westerse vermaak op tv vir jou voorgehou word as die lewe. Hoe sal jy enige iemand glo wat vir jou van die teendeel wil oortuig?
Ons samelewing is bitter ongesond.
Ek dink oor 'n vriendin wat gaan uithelp het by 'n kleuterskool. Die opdrag saam met die skoon vel papier was eenvoudig: teken jouself. Die swart gesiggies glimlag trots met blinkwit tandjies, en hou vol afwagting hul kunswerke uit. Maar die nuwe juffrou soek na woorde. Op die wit bladsye pryk blonde langhaar Barbie poppe.
Hierdie hartseer fenomeen word onderskryf toe Berna vertel dat nie een van haar Zoeloe vriendinne op skool gelukkig was met hul hare nie.
Uniek geskep?
In dieselfde gees word John de Gruchy aangehaal in Maart se Leef "dit is ons plig om met liefdevolle oë na onsself te kyk omdat dit vir iemand sonder selfrespek haas onmoontlik is om ander te respekteer". (Oorgang, bl 12)
My gedagtes loop terug tot op Vaalkop, die plaas naby die Swaziland grens waar ek grootgeword het. Die skoolbus het ons vroeg soggens opgepik en smiddags weer uitgespoeg. Dan het ek gou huiswerk gedoen, sodat ek klaar is wanneer Keki van haar skool af kom. Ek het nie vrae gevra oor hoekom sy amper 'n uur moes stap na die eenvoudige skooltjie op die buurplaas nie. Ek het maar net gewag vir 'n maat wat saam in die plaasdam kon gaan swem.
As PUK student het die staking van ons koshuiskombuispersoneel my saggies uit my onkunde laat ontwaak. En as jong getroudes was die hantering van opstandige plaaswerkers vir Bertus en my 'n onrusbarende realiteit. My eerste naby blootstelling aan gelykheid in die arbeidsmark was by 'n rehabilitasie sentrum, en ek sal die Duitse sendeling ewig dankbaar bly vir die geleentheid, want met die geboorte van ons eersteling was ek opgewonde oor FW de Klerk se onderhandelings oor die moontlike vrylating van Nelson Mandela.
Ek onthou die dag in 1994 helder. Die hemelruim was gelaai. Ek het op die plaasstoep gestaan en kyk na die busse wat nuwe stemgeregtigdes aangery het stembusse toe. Ek het geweet iets het onherroeplik verander. Ten goede. Maar, om eerlik te wees, diep in my hart was ook 'n stukkie benoudheid.
'n Paar jaar later bevind ek en Bertus ons in 'n lesing lokaal, deel van 'n internasionale, veelrassige gehoor. Voor, weerskante van die bruin spreker was twee wit aantekening borde, twee opskrifte. Regs;White. Links; Black. Eerstens daag hy die swart en bruin mense uit om te lys hoe hulle wit mense sien. Dis 'n lang positiewe lys: Intelligent. Mooi. Slim. Hardwerkend. Suksesvol. Ryk. Skoon.
En toe is dit ons beurt: Stilte...
En ek daag jou nou uit, liewe leser. Hoe sien jy ons donkerkleurige landsgenote? Sê bietjie.
Ek hét.
Stotterend eerlik: Hulle kan nie beplan nie. Dom. Stink. Skelm? Lui? Onbetroubaar…
Soos mens dink en sê, so is dit. Lewe en dood lê in die tong.
Toe het die spreker, Wilson de Goeda, tussen die twee borde, vir ons begin vertel hoe apartheid sy lewe geraak... nee gevorm het, en ek het onbeskaamd gehuil. Ek kon nie my mede studente in die oë kyk nie. Ek was so skaam. So jammer. Die las was swaar. Na diep selfondersoek, het ons teen die einde van die week se lesings oor rekonsiliasie, die voorreg gehad om te kniel voor Mandla. Ons het sy voete gewas en vergifnis gevra vir die sondes van die bestel waarvan ons deel was. Gebid ons vir genade. En ons verkeerde gedagtepatrone die stryd aangesê.
Terug in Piet Retief het ons deel geword van 'n interkerklike gebedsgroep. My hart wou bars van vreugde toe ek langs 'n zoeloe mama staan en ons saam sing! Ek het geweet dat as wit Afrikaner ek nie God se volheid kan weerspieël nie. Maar in die verskeidenheid sal Sy volheid te voorskyn kom, want elke stam, taal, volk en nasie dra 'n stuk openbaring van ons groot God.
So was daar gereeld geleenthede waar ons namens ons volk, ons taal, ons nasie, kon vergifnis vra. Soos die dag toe mama Johanna Magagula vertel hoe haar pa dood is aan die hand van die Suid Afrikaanse veiligheidspolisie nadat hy sonder pas laataand oppad was huis toe vir die geboorte van sy dogter. Gevolglik het sy nooit haar pa geken nie, vertel sy kalm. “Maar sy het vergewe” vertel sy met tranerige bruin ogies.
Ek was 'n getuie toe my man Maria se voete gaan was het. Daar voor haar sink hut, het hy gekniel en vergifnis gevra. Hy was jare gelede deel van 'n groep boere wat haar karige huisware op 'n vragmotor gelaai en op Dirkiesdorp ge-dump het. Die skaap wat ons saam gebring het as teken van restitusie is met 'n tou aan 'n paal vasgemaak. Hy het saam toegekyk, en hy het vir my betekenloos klein gelyk.
Mettertyd het die skuldlas ongemerk soos 'n donker wolk, gedurig saam met my begin beweeg. Dit was 'n swaar las.
Tot vandag toe nog is ek versigtig vir enige iets wat eksklusief Afrikaans is, soveel te meer as die onderwerp vir bespreking 16 Desember, Geloftedag is! Daarom dat ek ongemaklik rondgekyk het na die groot groep Afrikaners wat deur Tom Gouws in Klerksdorp byeen geroep is rondom 2007. Maar wat in wantroue begin, verander in 'n bevrydende dag! 'n Kort donker Ugandees, Shegun Olanipakun is een van die sprekers. Toe hy voor die groep boere staan, begin hy spottenderwys: It seems to me that I am the only one present, who needs to explain why I am here. Hy vertel hoe God hom gestuur het om die boere te kom oproep om hul plek in Suid Afrika (en die res van Afrika) in te neem. Terwyl hy praat loop my trane. Alweer. Ek besef dat ek vasgevang in skuldgevoelens is; skaam vir my volk van herkoms.
Na die naweek, kyk ek na twee geraamde laerskool foto’tjies van my en Bertus, geneem tydens my en Keki se saam swem dae in die plaasdam. Ek kyk en ek weet helder, duidelik, vas en seker: Ek was en is nie 'n fout nie. Ek is nie lukraak gebore in 'n Nasionaal Afrikaner huis nie. Dis so bedoel. En ek kan en moet my Afrikanerskap met trots dra. In die daaropvolgende week bid ek met ongekende outoriteit saam die Indier, Zoeloe en Bruin intersessors, seker van my roeping tot lig vir die nasies.
Die jarelange stryd rondom Bertus se geboortegrond en die dralende grondeis het ons eerstehands deel gemaak van die komplekse uitdagings van ons veelrassige land. Maar dié lang storie laat ek vir 'n volgende bladsy in my boek.
Vandag wil ek sê: Meneer Zuma; anders as wat jy mag glo, en anders as wat jy jou volgelinge hier voor die verkiesing wil wysmaak: Ek is 'n dogter van Afrika. En ek is hier om te bly, soos deur die Skepper van hemel en aarde bepaal. Ek is tuis hier. Alhoewel ek indentifiseer met Nataniël en soms ook bang, bedreigd en onseker voel. En terwyl ons nou vir Karen op die Sarie voorblad sien; ja! soms wil ek weghardloop na Zoid Afrika. Daai ministers maak immers my boere hart warm klop van trots! Maar ek is hier meneer Zuma. Ek het verantwoordelikheid geneem vir die foute van die verlede. En ek het vergifnis gevra. En ek is vergewe en vrygespreek. En ek weet my wit vel maak my niks meer nie. Maar ook niks minder nie. Want so is ons albei geskep. Uniek.
Ek glo dit.
Glo jy?
Glo jy?
Ns.Liewe Afrikaanssprekende! Gaan koop vir jou Maart se Leef. Behalwe "Oorgang", lees ook "Vrede in die gewone" en moenie die agterbladartikel mis nie, die Joodse geskiedenis gee enige “onderdrukte” volk nuwe moed. Lees ook Nataniël se rubriek in die Sarie met Karien Zoid op die voorblad. En wees trots op wie jy is, en help elkeen wat jou pad kruis, om presies dieselfde oor homself te glo.
Saturday, 26 December 2015
Vriende en Familie kuier op Breedevlei
Van Prieska, die Paarl, Papiesvlei en Johannesburg - ons almal saam op Breedevlei!
Dankie Berna en Stef vir 'n lang tafel met liefde gedek.
Dis lekker om saam te eet!
Thank you David Stroud for the koftas, couscous and skaapboud!
Dankie Willie en Hennie vir die wyn en die heerlike bederf uit die Noord-Kaap!
Saturday, 19 December 2015
Monday, 7 December 2015
Thursday, 19 November 2015
Friday, 4 September 2015
Subscribe to:
Posts (Atom)