Saturday, 19 December 2015
Monday, 7 December 2015
Thursday, 19 November 2015
Friday, 4 September 2015
Saturday, 22 August 2015
Buitengracht straat.
Geskryf deur Carna van Zyl
20 Augustus 2015
... se verkeer spoed voor my verby. Ek sit agter groot
glas mure. Daar is groot verskeidenheid restaurante en koffie winkels in die
middestad waaruit ek kon kies, maar vanoggend val die keuse op The Roast. 'n
Bietjie te modern met glas, chroom en leer; en selfs bietjie koud na my smaak.
Maar ek maak my tuis by die toonbank, reg op die straat. Die uitsig is perfek!
Langs my sit 'n yuppie met 'n blink dun labtop. Die
brilraam op sy neus net so dun en blink. Uit sy ore hang klankkabeltjies, hy is
in 'n ander wêreld. Regs van my neem 'n vrou plaas. Ek het haar sien aankom, in
swart geklee, hare bottel rooi met 'n pers skynsel. Met silverblink juwele.
Baie daarvan; armbande aan beide gewrigte. Om haar nek 'n versameling goed wat
hang. Vele vingers met ringe. Sy bestel swart koffie en lees vir 'n rukkie
koerant. Dan maak sy twee oproepe. Ek hoor hoe sy kliente meedeel dat hul
juweelstukke klaar en gereed is om afgehaal te word. Nou maak dit sin; “a
walking advertisement!”
Die diens is goed, my cuppachino verskyn oomblikke nadat
ek dit bestel het. Bedien in 'n roesbruin dikwand koppie. Die skuimkop getuig
van 'n geoefende hand, met 'n bykans perfekte tulp versier. Ek proe versigtig.
Heerlik! Terwyl ek stadig teug aan die ryk romerige bederf, vervorm die tulp in
iets wat soos 'n protea lyk. Ek kry lag vir myself: jy sien gesigte blomboer se
vrou!
Vanoggend loop my beker oor.
Ek en Berna is net na nege weg uit Napier. Bertus wou
graag deel in die bederf dag, maar op die plaas word die fondasies gegooi vir
die nuwe blomstoor. En Donderdae is bedrywig met laaste blombestellings wat
moet uit voor die naweek. Ons pak dus die 170 km sonder hom aan, dankbaar dat
hy vroegoggend die ergste modder van die Xtrail afgewas het. Ek is effens
gespanne, ek is nog nie gemaklik met die skiereiland se baie paaie nie.
Maar oppad glimlag die Overberg gul met goud geel canola
lande. Die damme blink blou en die heuwels rus sag groen met gars en koring.
Net na Boontjieskraal opstal sien ons 'n groot trop bloukrane - langs die N2
staan fotograwe gefokus met lang lense.
Toe Sir Lowrys pas ons veilig oor die berg bring, groet
Valsbaai vriendelik. Ons is nou lank genoeg in die Kaap om te weet hierdie
windstil sonnige dag is nie 'n gegewe nie, en moet waardeer word. En ons doen!
Kaapstad, die Moederstad wag ons in.
En hier sit ek nou, veilig, midde haar woel en werskaf,
hier langs een van haar hoof are, wat blink motors, toerbusse,
afleweringstrokke heen en weer voer. Op teen die berg waar Buitengracht
Kloofnek word, of af, waar dit via die N1 of N2 gebruikers wegvoer Noorde toe.
Haar kinders, op straat voor my,is verteenwoordigend van ons diverse samelewing.
Oorkant die straat stap 'n mama, baba knus op haar rug vasgeknoop, met nog 'n
peutertjie aan die hand ook. Sy het 'n helder groenbont rok aan. Die kopdoek
van die selfde lap hoog om haar kop gebind, soos 'n tulband, 'n kroon.
Vir hierdie bepalende onderhoud het Berna haar uitrusting
goed deurdink; besluit op 'n groenbont Afrika lap vir 'n top. Gister is daar gou
'n baadjie gemaak van ripstop. Vir die knope moes ons vanoggend oppad op
Somerset Wes by die lap winkel stop, die laaste een eers vasgewerk toe
Tafelberg al vir ons knipoog!
As vanoggend se onderhoud goed verloop word Berna deel
van Buitengracht se voetgangers. Voetganger, want met vier wiele soek jy vir parkering en nog harder vir (genoeg!)
parkeer geld.
Ek drink die uitsig in. Na regs troon Fedisa se rooi
gebou hoog bo Tafelberg uit. Ek hou die studente wat kom en gaan, nuuskierig dop,
sommige met groot sakke en ek kan my verbeel watter skeppings daaruit te
voorskyn kom. Ek glo my Berna kind is gereed om haar verke te sprei. Wat 'n
voorreg om dit hier in ons land se mode hoofstad te kom doen.
My beker loop oor. Van dankbaarheid.
Oor my Vader wat ons 'n jaar gelede na Napier gelei, en daar gevestig het.
Wat ons in staat stel om ons twee talentvolle kinders hier te laat leer.
Dankbaar, omdat die meetsnoere vir ons in lieflike plekke val.
Wat ons in staat stel om ons twee talentvolle kinders hier te laat leer.
Dankbaar, omdat die meetsnoere vir ons in lieflike plekke val.
My hart loop oor van vreugde oor Wian wat vandag verjaar.
Al kou hy harde bene. Toetse, take en praktiese klasse weerhou ons vandag van
saamkuier. Maar ons sal darem die pakkie kudu biltong gaan aflaai vir laataand eet,
alleen voor die boeke.
Voor my is Buitengracht verdeel in twee eenrigting
strate, een bergop, die ander een af.Die breë middelman doen diens as broodnodige
parkeerarea en is hier beplant met plataan bome. Op hierdie wintersoggend
vertoon hul grys- wit, blaarloos met die stekelrige balletjies swart afgeëts
teen die blou lug. Wit en grys meeue fladder op en 'n paar wat op die ligpaal
voor my sitplek vind, herinner my dat Kaapstad 'n hawestad is.
'n Lang donker man stap verby, steek die straat oor.
Swart baard. Hy is geklee in 'n kuitlengte bruin rok, donker kouse met swart
toerygskoene. 'n Westerse K-way baadjie beskerm hom teen die koue. Ek verwag dat sy kop bedek sou wees? Wat is sy
storie? Sien hy homself as 'n Suid Afrikaner?
Hy herinner my aan Mnr Badat, van Kempville in Piet
Retief, waar ons almal wol gekoop het. Waar Berna soms shweshwe gekoop het. My
ma sê hy vra gereeld na ons welstand. Wat maak dat hulle dikwels 'n lewe maak
uit die verkoop van lappe. Selfs in Pretoria
by die grote Metro, moes ons al dikwels op 'n Vrydag middaguur voor
dooi-mans-deur omdraai.
Ek bestel water. Dit word bedien saam met 'n glas, ys en
twee skyfies suurlemoen. Net soos ek daarvan hou. Op die deurskynend glas
bottel lees ek. Mountain Falls. Ph 7. Sparkling. Perfectly balanced. Bottled at
source Overberg Hermanus. 'n Gedetailleerde annalise van die minerale inhoud
volg.
Minder as 'n meter van my af, anderkant die glas gordyn,
stap 'n man verby. Stadig. Hy stop. Buk
versigtig, sodat sy aardse besittings wat hy op sy rug dra, hom nie van balans
af trek nie. Hy tel 'n platgetrapte sigaretstompie op.
Ek weet nie wat om te dink nie. Bid? Maar wat vra ek?
Op die groot glas skuifdeure, wat outomaties oopskuif toe
'n jong paartjie mekaar vir middagete in The Roast ontmoet, lees ek: This area
is under 24 hour camera surveillance for your protection.
Vader, hoe bou mens 'n brug oor die verskillende wêrelde?
My foon blieb. Berna se Whattsapp lees: "ek is
uit" en die “emoticon” gesiggie lyk moedeloos; 'n sweetdruppeltjie op die
voorkop. Bertus antwoord flink “wat van in?”
Ek hou haar dop toe sy die besige Buitengracht oorsteek.
My moederhart bid geluidloos: Seën ons Here God, seën
Afrika!
Vroue in voorskote
Geskryf deur Carna van Zyl.
Opgedra aan Ben en Retha.
Junie 2015
Herfs groei tot by Meimaand. My verjaarsdag maand. Ook
Moedersdag maand, en om dit te vier, nooi vriendin Michelle my na 'n
Saterdagoggend tee met die tema: Once upon a Apron. Nog 'n “toe- val- Lig”
geleentheid? Vroue arriveer toegevou in 'n verskeidenheid voorskote. Voorskote
so uiteenlopend soos die vroue self. Al die vroue, met die uitsondering van
Michelle, is vir my totaal onbekend, want al herken ek teen die tyd van die
gesigte by OCF, ken ek niemand by die AGS gemeente in Bredasdorp nie.
Ek word dit al amper gewoond. Om as 'n vreemdeling tussen
onbekendes in te stap; asem in, skouers regop. Vir vanoggend “kruip ek bietjie
weg” agter my dogter se voorskoot. Of soek ek “ondersteuning” by haar
funksionele leer band met silver gespes voorskoot? Want wie anders kan spog met
'n voorskoot wat deur hul dogter gemaak is?
Ek kon kies en keur tussen die voorskote in my Napier
huisie, meesal agter die kombuisdeur, maar soms argeloos, saans oor die haak in
ons kamer. Onnodig daar. Soms vind ek dit in die gang waar ek haastig daarvan
ontslae raak, om gaste glimlaggend, vol selfvertroue te verwelkom in 'n skoon
wit bloes!
Sal ek die gunsteling groen Johnson werkersklas een dra?
Die ry glimlaggende Madiba gesigte op die soomlyn, verkondig dat ek myself met
dankbaarheid vereenselwig met die nuwe Suid Afrika. Die Johnson se tekortkoming is sy gebrek aan 'n sak, so
handig vir my selfoon, wat ek tog so kan verlê. Maar vir die oggend tee is sy
kleur nie heeltemal gepas nie.
My blou plastiek een? Nee, hy makeer 'n band vir vasknoop
agter die rug.
Die het afgeskeur toe Bertus hom gedra het met die laaste
bees wat op Amsterdam bewerk is. 'n Handige voorskoot omdat hy net met 'n klam
lap skoongevee kan word. Diè was drie dekades gelede 'n geskenk van 'n kunsmisagent,
uit Amerika! aan 'n bloedjong pasgetroude boervroutjie.
Die blou-met-wit-kolletjies-een sou kleurgewys goed pas.
Maar 'n kritiese oog sal 'n paar vlekke raaksien. 'n Borrieblerts wat
hardnekkig klou, vertel van 'n lekker
lamskerrie. Die vaalgewaste voorkant verklap dat diè linne-katoen mengsel die
gunsteling agter die kombuisdeur is. 'n Ruim buidelsak voor waarin alles saam
gedra kan word, is 'n groot pluspunt. Hy vou so lekker om my lyf, sag om my
heupe waar my klam hande so op 'n drafstap afgevee kan word.
Vir die oggendtee, wen Berna se voorskoot. Sy kuier in
Stanford en ek stuur 'n boodskap. Kan ek
jou voorskoot leen? Ja natuurlik!
kom die antwoord deur die lug. Ek sien hy is vuil, en bekla die feit oor die
lug voor ek die koekie Sunlightseep gryp. 'n
Voorskoot moèt vuil wees ma! kom die antwoord net so vlug. Waar kom sy aan
haar wysheid, dink ek terwyl ek die voorskoot ophang om droog te word.
My kreatiewe kind werk nog aan die konsep van die
dienlike kakiegroen voorskoot. Sy het haar inspirasie gevind op “Carpenter’s
Daughter” se “Instagram account”. Die bande van leer knip voor op die skouers
vas, kruis oor die rug en knip weer in die sye vas, met blink metaalknippe.
Sodoende kan die lap gedeelte, van dubbelle “ripstop”, maklik gewas word. Die
sak voor moet nog ontwerp word, met 'n leer sakkie vir haar snoeisker, 'n funksionele
ontwerp; die nuutste Adanna produk.
Die Satedagoggend voorskote vertel elke sy eie storie. 'n
Halflyf een, bedruk met blomme en voels uit Suid Afrika se ryk fauna en flora,
laat my verlang na my ma en haar soortgelyke een agter die kombuisdeur in verre
Piet Retief. Sommiges uit ouma se trouseaukis, versier met fyn borduurwerk, is te
kosbaar vir gebruik. Die wat nederig
vertel van vele fondsinsameling pannekoeke wat gebak is vir kerk en skool, hou
vir my 'n besondere bekoring in. Oorkant my glimlag Isabel mooi met pienk lippe
toe sy die prys kry vir die wen voorskoot; 'n pienk-polkadot-bont een wat
vrolik uitnooi:”Kiss the cook”. En ek las by, “and spice up your life!”
Langs my sit Michelle, sommer 'n voorskoot by 'n vriendin
geleen vir die geleentheid. “Eintlik moes ek my Rooikruis een aangetrek het”
dink sy hardop. Verlede jaar, toe ons
nog blink nuut in die Kaap was het sy my opgekommandeer om te help pannekoek
verkoop by die Agri Megaweek (dis nou ons Nampo, vir die wat nie weet nie!).
Omgord met 'n wit voorskoot met rooi kruisie oppie bors, het ek pannekoeke help
verkoop aan honger langasems wat die Voet van Afrika kom aandurf het. Michelle;
die eerste vrou in die Overberg wat ons in haar huis ontvang het. Michelle, wat
ons bederf het met eetgoed, terwyl wederhelf, John ons rondom 'n koppie boeretroos gerus gestel het. Daardie dag, toe hierdie
twee baie benoude Piet Retiewers hond se gedagtes gekry het oor die onbesonne plaaskopery
in die Wes Kaap. Dankie Michelle dat jy saam met John vir ons die deur
oopgemaak het in die Overberg.
Waar kom my liefde vir voorskote vandaan? Dalk van die
vroue agter voorskote?
My ouma Annie se voorskoot was deel van elke dag se
uitrusting. Sy het gehou van kwaliteit; Young Clinic leer skoene, Ruth Reed
rokke. Pappa se jongste sussie moes die rokke in die stad koop, en Mamma moes
dit dan verstel om ouma se kort ronde lyfie te pas. Mamma moes ook die
voorskoot maak wat die dure rokke beskerm. Want ouma kon lekker eet, en was dus
daagliks in die kombuis agter die koolstoof. Hierdie oorrokke is gemaak van
dienlike katoen, en reslappies in die laslapkombers op Berna se bed hou my
herinneringe hieraan helder.
Nog 'n voorslagvrou agter 'n voorskoot, is skoonsus Riza.
Laasmaand
geniet hulle 'n welverdiende ruskans op Onrus. Hennie
verjaar en “Chris en Penny” klim in hul Volkswagen en ry gou oor vir middag
koffie. Die vakansiehuisie kombuisie is knap, maar Riz het kind en kraai gevoed.
Met twee vleise, want die spyskaart moet darem opweeg met hul swaargewig wyn! –
alias die verjaarsdagman. Met ons aankoms word daar nog lang student-stories
onthou rondom die einste swaargewig uit die Noord Kaap. Ek is nog te nuut in
die wynwêreld om die Rooie na waarde te skat, maar ek sien 'n tiptop kombuis en
waardeer 'n vasvat vrou. Want ek weet Riz het ewe nonshalant haar voorskoot
oorgegooi en gou die skottelgoed gewas terwyl haar gaste nog om die tafel
kuier, sodat sy kan regstaan met skoon koppies vir koffie en melktert, vir haar
kleinboet.
Dan is daar nog 'n vasvat vrou, Gail Baadjies, wat
daagliks in haar Johnsons Workwear, Eenvoud Boerdery geborduur op die rug, op
Breedevlei voorvat. Die vriendelike vrou wat weet van blomme. Wat nederig en
met groot geduld vir hierdie inkommers geleer het van Proteas en Banksias. Van
snoei en pluk. Van pak en versend sodat die puntenerige agente tevrede glimlag.
Ek eer jou Gail, omdat jy die span lei met toewyding. Omdat asseblief en dankie
so deel van jou taal is, selfs op die teksboodskappe tussen jou en Bertus.
Terwyl ek hier skryf verlang ek na Retha. Ek onthou die
Sondagmiddag feesmaaltye op Confidence. Sy het ons aangevoer om saam-saam in
die plaaskombuis 'n feesmaal voor te berei vir die troepe. Ek dink aan tannie
Carolien se pampoenkoekies, gereeld op die spyskaart, wat 'n beskerming vereis
het teen die borrel van daai karamelstropie, èn die olie vir die braai slag. Net
voor dat ons aansit, het Retha kamer toe verdwyn, waar sy haar voorskoot
verruil het vir 'n paar roep-rooi lippe. Dan het sy haarself elegant langs Ben
tuis gemaak, en saam met ons mans het ons gesels oor kerkwees, gedroom oor die
Koninkryk en ons uitdagend mooi land se probleme saam-saam opgelos. Kosbare
tye.
My voorskoot storie moet nou einde kry.
Die grootste verassing van die Voorskoot oggend is dat ek
toe nog iemand ken! Cecilia is net so verbaas as ekself, en kom groet gou. Ons het vir Danie en Cecilia ontmoet terwyl
ons nog besig was om bokse uit te pak. Hulle loop voor by OCF en hul begeerte
is om die Overberg families te sien in geestelike volwassenheid. Sodat Sy
Koninkryk kan kom.
Op die oggend is
Cecilia die gasspreker, en ek sien vir die eerste keer hoe 'n voorskootsak baie
effektief gebruik word vir die saamdra van die blokkie elekrtonika met die kabeltjies
van die mikrofoon om haar kop. Sy borrel oor van die hoop wat in haar leef. Sy
bedien ons vanuit haar erfenis as dogter
van die Allerhoogste. Wanneer haar afrikaanse woorde te kort skiet, pleit sy
spontaan in engels dat ons nie moet toelaat dat hierdie gebroke wêreld ons definieer nie. Ons is na Sy Beeld geskape,
leef in die herskeppingskrag van sy Seun!
In ander half jaar het hierdie voorloop vrou vir my
soveel geleer van ons Vader se Koninkryk, volg ek in verwondering terwyl ek
ontdek watter hoop Sy roeping inhou. Vir my.
En jou.
En omdat my Millie huishulp haar enkel gebreek het,
bevind ek my die afgelope paar weke o so gereeld met my voorskoot voor die
wasbak. Stoot ek die stofsuier rond. Staan ek gereeld by die wasgoedlyn. En
oordink die volmaakte verlossing van Yahweh. Vul die heerlikheid van sy roeping
my met ontsag. En dink ek met dankbaarheid aan Yahushua wat op die vooraand van
sy hooste prys, sy bokleed uitgetrek het, 'n doek om sy lyf gebind het, en sy
volgelinge se vuil voete gewas het…
***
Aanvanklik het die voorskootstorie hier geeindig. Maar ek
het die gevoel gehad dat die laaste nog nie gesê is nie, asof 'n waarheid my
nog ontglip. Ek het daaroor gedink. Gebid. En toe kom 'n groot waarheid; die
gevaar van my voorskoot.
Ek besef hoeveel waarde ek heg aan “besig wees”. Die
gevaar van my voorskoot is dat ek my identiteit daarin vind. Ek is deel van 'n wêreld
wat werke beloon. 'n Samelewing wat waarde heg aan 'n Purpose driven life. Performance. Production. Selfs in die kerk bewys ons graag ons geloof
met dade.
Aan die einde van 'n besige dag voel ek goed. Waardevol.
Nog meer so as een van my gesinslede 'n waarderende opmerking sou maak oor 'n
vars gestrykte bondel wasgoed, 'n geurige bord kos, en sommer nog 'n ekstra sterretjie
by as daar 'n bord kos is vir die straatkinders wat so gereeld kom vra. Maar
wanneer is dit genoeg? Ek kan nog nie met Mev Spreuke 31 kers vashou nie! En as
ek dink aan my bekwame vriendinne wat in die korporatiewe wêreld hul deel doen,
daar waar 'n voorskoot totaal onvanpas is, dan wonder ek of ek nie my gawes
begrawe nie. En dan kruip onvergenoegdheid saans, stil-stil saam met my tussen
die lakens in. En laat my met moedelose gedagtes wakker lê in die nanag.
Ek stoei, want ek laat toe dat hierdie wêreld my
definieer.
Die waarheid maak vry. Ek kan nie my identiteit vind in
my voorskoot nie. Of in enige iets anders nie. Soos Luther van ouds wil ek dit
vasspyker aan my hart. Dit gaan nie oor wat jy doen nie, Carna! Ek kan net leef
vanuit my verhouding met my Skepper. My dag deurbring in verbondenheid met Hom.
Amen.
'n Paar Sondae terug vra Danie wat die profetiese woord oor
jou lewe is. Ek moes diep dink voordat dit helder terugkom. Amper 20 jaar
gelede in 'n klein donker kantoortjie agter die Bybelsentrum in Piet Retief se
hoofstraat, het Ben vir my gebid: “You are a worshipper, not a worker”.
Subscribe to:
Posts (Atom)











