Sunday, 1 March 2015

Dinsdag in die dorp.

Dinsdag in die dorp
Geskryf deur Carna 

Piet Retief. Ons altwee se geboorteplek. Grootword dorp. Bertus het die eerste lewenslig aanskou in Bambino Kraaminrigting, en ek minder as 'n jaar later in Piet Retief hospitaal. Altwee op plase in die omgewing leer loop, ek op Vaalkop, 16km suidoos van die dorp naby Swaziland se grens, en Bertus 40km in die teenoorgestelde rigting, Volksrust se kant toe. Albei by die legendariese juffrou Marie Groenewald leer lees en skryf. Mekaar leer ken en liefkry op Hoerskool, en na salige student jare op Potchefstroom, saam-saam die gee en neem van die lewe leer verwerk op Amsterdam, Bertus se erfgrond.

Dus is Piet Retief ons dorp.

Was Piet Retief ons dorp. Gewees. Want sedert ander half jaar is ons nou Napierdorpers. Overbergers. Inkommers.

Onlangs het ons inderhaas die lang pad Noorde toe geneem, terug Piet Retief toe. Ons het vir Skoonpa gaan begrawe, in die ou begraafplaas, daar waar Kerkstraat, N2 word, oorkant die ou hospitaal. Daar waar ons 22 jaar gelede ook ons eie klein Altus begrawe het.
So het ons 'n paar dae in ons geboorte dorp spandeer.

Kosbare dae. Een bitter besige dag, besef ek eers by ons terugkeer na Napier,toe ek my dagboek op datum bring, en al die besoekpunte van daardie laaste Dinsdag in Piet Retief neerpen.

Ons was tuis in my ma se huis, al was sy en pa uitstedig, op hul halfjaarlikse vakansie. Terwyl ek daardie Dinsdagoggend stort onthou ek skielik dat ons 'n beriggie van pa Bertus se afsterwe, in die plaaslike koerantjie wil plaas. Ek weet uit ondervinding dat artikels vroeg Dinsdagoggend gereed moet wees vir Vrydag se Bollie. Ons is heel betyds toe ons die beriggie met meegaande foto by Excelsior Drukkers aflaai.

Terwyl ek my skryfvernuf ingespan het, het Bertus intussen met Bessie by Richter&Weber vergader. Hulle is ons boekhouers, het die pad met ons gestap in die verkoop van Amsterdam, ook oor die lang afstand gehelp met die vestiging van Eenvoud Boerdery in Napier. Hulle bied ook aan om pa se boedel te hanteer. Dankie besige bytjie… ek bedoel, Bessie!

Nog 'n helder oomblik in die stort het my laat onthou van skoonsus Elra se blompot voor in die kerk. Bertus gaan bedank vir Barbie en Ester in die kerkkantoor, terwyl ek die blompot gaan soek waarin die pragtige koningsproteas was, dieselfde proteas wat pa se eenvoudige denne kis versier het. Die Groot kerkgebou is stil op die weeksoggend. Ek staan 'n oomblik stil voor die preekstoel en kyk na die rye hout banke. Sondag na Sondag het ons daar gesit; al vyf saam met ma onder die oos galery. Destyds het pa nog hier voor in die kerkraadsbanke gesit. Bertus en sy pa net so getrou, onder die suid galery.

Ja, natuurlik het ek vir hom geloer! Hoeveel belewenisse het ons nie hier gehad nie!

In die konsistorie soek ek my oupa VD Colf se foto tussen die ander oud predikante. Ek talm nie langer nie, vind die blompot in die gangetjie na die moederskamer, en laat myself nie toe om te diep te dink nie. Daar is nog veel te doen.

Weer verdeel ek en Bertus kragte. Terwyl hy en ma Alma vir Lappies by Sanlam gaan sien, help ek vir Berna geskenke soek vir Lelanie. 'n Iets vir haar kombuisie by Clicks, 'n mooi glasblompot as troupersent by die apteek, en blomme by Ilanga vir haar verjaarsdag. En tong-in-die-kies; 'n klein “babygrow” by woollies. (Snaaks hoe 'n Woolworths statuur aan 'n klein dorpie kan gee!) 'n Alles-in-een geskenk , want Berna sal waarskynlik nie deel wees van haar vriendin se spesiale dae wat wag in die toekoms, nie.

Ons volgende stop is by Post Net. ‘Go big or go home’ het gebore Piet Retiewer, Charlene 'n paar jaar gelede besluit. En daarom spog hulle oa met 'n GROOT drukker en Laser cutter. Ek is dankbaar vir die vele geleenthede in die verlede waar Melinda letterlik uitdrukking gegee het aan Berna se liefde vir ontwerp en kleur, in kwaliteit! Hulle het juis pa Bertus se begrafnis briefie gedruk en op hierdie Dinsdag oggend druk ons gou vir ma Alma 'n paar foto’s van die begrafnis. As ons volgende week ver is, kan dit ons ‘naby’ hou.

Bertus besorg vir ma Alma by haar huis. Sy is baie dankbaar dat hy al die papierwerk saam met haar kon afhandel.

Pa se dood was nie onverwags nie. Ma Alma het hom getrou met Duitse vasberadenheid versorg selfs toe hy al bedlêend was, ten spyte van haar eie 84 jaar. Ons het daarop aangedring dat hy oorgeplaas word na Huis Immergroen se verswakte afdeling. Hier is hy medies versorg deur professionele personeel. Geestelik is hy versorg deur sy vriend Gys Wessels, wat gereeld saam met hom Bybel gelees en gebid het. Toe ons vir oom Gys gaan dankie se met 'n bottel moskonfyt uit die Kaap, vertel hy met blink oe hoe hy die krag van die Woord daar in die klein kamertjie ervaar het. Oom Gys het self onlangs vir Tannie Tinneke begrawe, en maar onlangs eers ingetrek by Villa Sandra. Hy wys met ooglopende trots pragtige ou foto’s van sy pragtige vrou, wat hang bokant die enkelbed. Voor sy eenkamer woonstelletjie staan groenbone hoog gerank tussen ander groente. Sy buurvrouens het elk 'n plukseltjie bone uit sy tuintjie gekry.

Een van die buurvroue is Tannie Kate. Haar man, oom Piet Bioscope was 'n goeie vriend van ons pa. Saam het hulle menige bees laat slag en die vleis verwerk, vir die kerkbasaar en laterjare juis vir die ouetehuis , om die krimpende staatshulp te help rek. Tannie Kate is hartseer, sy moes onlangs ook haar seun begrawe. Maar gou vertel sy met blinkbruin ogies van haar jare as tandarts assistent in Piet Retief se hoofstraat, daar waar Nando’s deesdae is. Bertus onthou dit goed, hy moes self die twee blokke stap van die laerskool af, om skewe tande reguit te laat trek; dankbaar vir die vriendelike tannie wat 'n klein seuntjie se hand vashou terwyl die kwaai dr Brink sy ding doen.

Op pad uit, loop ons ons vas in Tannie Paddy . Nog een van die bevoorregte boon buurvroue. Sy kom pas van Retiefville af, die tradisioneel bruin woongebied van Mkondo (soos ons dorp deesdae bekend staan), strategies geleë tussen die swart en wit woon areas . Die gebedsgroep kom reeds vir baie jare elke Dinsdagoggend by mekaar. Oor kultuurgrense heen het ons hier saam gehuil, ons God se
aangesig gesoek oor die pyn en leiding in ons onderskeie gemeenskappe. Saam Sy Naam geprys as ons vir mekaar vertel van die Goeie gawes uit Sy hand.

Tannie Paddy vertel opgewonde dat sy volgende maand vir Therese in Somerset-Wes kom kuier. Ek en Therese het saam matriek geskryf, saam musiek as vak gehad en soms het ons saam op haar fiets,genaamd Griet, die afdraende afgejaag vanaf die hoerskool koshuis en dan die bultjie uitgestap NG Kerk toe, waar sy moes orrel oefen. Jare later het haar man wêrelde vir ons oopgebreek met sy Holistiese kyk na die lewe. Vandag tel hulle onder ons min vriende in die Kaap. Ons het nog nie die ander ontmoet nie.

Ons besoek aan Pa se portuur in Huis Immergroen, het ons verryk.

Teen die tyd is ons honger! Ek probeer ongesiens in hardloop by die Wimpy. Helaas! Ek moet by drie bekendes stop en vinnig verslag gee van ons Kaapse draai. Oud Pietie en hartsvriendin, Retha, het vroegoggend uit Pretoria via 'n Whatsapp foto’tjie, gespog met haar Piet Retief kleinkind in 'n Tuks universitieshempie. En hier by die Wimpy kan ek einste klein Milah se warm slaaplyfie, in haar tukshempie! 'n drukkie gee.

Ons drink ons koffie in die ry, op pad na Robbie, eiendomsagent. Ons het uiteindelik na vele oorwegings besluit om ons eiendom in Piet Retief van die hand te sit. Die ou Sweedse Sendingkerkie en huisie met sy skewe mure lê ons na aan die hart, maar ons glo dis tyd vir aanbeweeg.

Berna kuier met Lelanie en ek en Bertus ry na Leonard en Dagmar toe. Hulle was in die buiteland toe ons verlede jaar totsiens gesê het vir Piet Retief. Vrolik verras nooi hul ons in en vra uit. En vertel van die oggend se ontbyt met ander geestelike leiers in die dorp, en getuig van die gemeensaamheid, die eenheid. Ons het self 'n paar jaar gelede die maandelikse ontbyt bygewoon. Voordat ons groet, bid ons saam. Ek ervaar dat nog 'n stukkie van ons lewenspuzzle in plek val.

Die son begin sak toe ons voor Ma Alma se huis stilhou. Ons woorde is min. Hoe laat ry julle? Ons wil voor drie in die pad wees. 'n Laaste stywe druk. Mooi bly ma.

Nog is dit einde niet. Ons drink vinnig koffie met vriendin Karin. Dan ry vriend Hannes saam plaas toe om Bertus te help besluit oor ons hoenderhokke. Moet hul bly of ry? Intussen help Johann en Arina my om vir oulaas plante uit te haal in my pragtige tuin op Amsterdam. In die bakkie se ligte haal ons nog die laaste een uit; die bloublom struikie, die naam ken ons nie, maar ons het hom geërf uit ma Dinky se tuin. Ek wonder hoe hy gaan reageer op die lang nat Kaapse winters?

Terug in die dorp maak Bertus die Amarok vol brandstof. Ek hardloop oor die straat Nando’s toe vir 'n ‘lemon&herb’ hoendertjie. Die groot bestuurder herken my. Ons het graag hier geëet, al was ons dikwels die enigste blankes tussen luidrugtige Zoeloes. Dit het ons nie gepla nie. Ons is in Afrika. En dis lekker hier. En ek het al dikwels gefrustreerd gevoel as sommige Kapenaars sommer aanneem dat ons weggehardloop het van die ras spanning in die ‘noorde’. Dis nie die geval nie.

Jan kom eet saam aan die hoendertjie. Hy kuier nie lank nie. Groet. Kom kuier asb vir ons met jou mooi motor Jan! daar is nie potholes inni Kapie!

En so het die laaste dag in Piet Retief verloop. Toe ons naby middernag die volgende aand ons Napier huisie oopsluit, was dit vreemd. Nie onbekend nie, want dis ons pragtige meubels wat glim in die straat lig, ons eie twee honde wat ons stertswaaiend verwelkom. Maar 'n gemeenskap nog onbemind. Want ons ken hulle nie. Nog erger, hulle ken ons nie. Sal ons dalk nooit ken soos Piet Retief ons ken nie. Want geboortegrond het sy eie bekoring, herinner en troos Elra uit die Paarl.

By die neerpen van hierdie belewenisse het die emosies soms opgewel tot 'n knop in die keel, oorgeloop in stil trane. Treur ons oor die verlies aan 'n bekende beminde gemeenskap.
Oor wat was, en nooit weer sal wees nie.

Maar met hierdie skrywe wil hierdie Napierdorper sê: Dankie Piet Retief, ‘you served us well!’
Hoop julle kan dieselfde sê.

Begrafnis in Beeld














Monday, 1 December 2014

Winde van verandering #2
deur Carna van Zyl



Sondagmiddag, 14 November 2014. Uiteindelik! Na maande se bid, bespreek, vergader en eindelose papierwerk is ons die trotse, versigtig optimistiese, soms blatant benoude eienaars van Breedevlei plaas.

Ons spandeer die middag onder die pragtige Stonepine bome. Die Dexters staan nuuskierig nader. Boxer en Coco geniet die veld en snuffel in die swart turf onder n slangbos agter molle aan. Almal help soek na Honey, die nuutste Dexie. Ons vind haar tussen die dekrietpolle waar haar ma haar versteek het. Wian maak dennepitte bymekaar vir vanaand se slaai. Ook Bongumusa kuier saam voordat hy more die lang pad Swaziland toe neem.

Ons kuier in die skadu. Neem fotos.  Stry oor die beste plek om ons droomhuis te bou. Maar meestal is ons vredevol stil. En geniet die vars lug, die uitgestrekte veld, die blou hemel. Dankbaar. Vir die wete dat ons veilig is in Sy hand.


Die foto laat my ver terug dink. Terug na 1996. Toe my pragtige dogter nog op wankelrige beentjies begin loop het. Vir die laaste drie maande van daardie jaar het ons gesin ook die Kaap huis genoem. Meer spesifiek, Muizenberg, waar ons saam met mense van oor die hele wereld, studente was by YWAM. Opsoek na Yahweh se plan vir ons lewe. In daardie tyd sien medestudent Brandon in sy geestesoog hoe Vader ons blaas  soos n dandelion, van Muizenberg af, die wereld vol. Oral waar n saadjie val, skiet dit wortel en groei.
Ek dink aan winde van verandering. Die wind wat die afgelope naweek met vors gewaai het, sodat my skoon huisie in Napier, spog met n dik lagie stof! Ook in Piet Retief het n stormsterk wind gewaai. Vandaar die mooi sonsondergang fotos  op Facebook. Ek dink aan Sy wind wat ons terug gewaai het na die mees suidelike punt van Afrika. Dit laat my dink aan die lied wat ons verlede Sondag gesing het.

“This is the great Southland
Of the Holy Spirit
A land of red dust plains
And winter rains
To this sunburned land
We wil see a flood
And to this great southland
His Spirit comes





Friday, 21 November 2014

Winde van verandering
deur Bertus van Zyl



Toe vra die wind;
Waarom wil jy weet
waar kom ek vandaan en waarheen?
As ek jou sou vra;
Wie is jy
 en waarom is jy jy?
As jy die antwoord vind
weet dan,
ek en jy
Ons is elk deel van God se ryk,
Ek dien slegs die groter plan.
Sonder Gees of wil
word ek gestuur na hier en daar.
Maar jy,
jy mag kies waarheen.
Moet kies.
Of jy wil of nie.
                                                                                
                                                                  (Johann Bührmann, Julie 2014 – Die Wind)

14 November 2014. 317 dae sedert ons daarvan bewus geword het dat die Wind ons lewens in 'n ander rigting gaan waai. 2 Januarie 2014 – ons mag kies, nee ons moet kies, of ons wil of nie. Wel, behalwe vir al die sentiment en emosies wat die kiesproses sou beïnvloed, het ons geweet ons het eintlik reeds, presies 3 jaar gelede, gekies. Toe ons nuwejaars-oggend 2011, sesuur in Napier se hoofstraat opry en probeer hoor wat Vader van Napier wil sê en ons in een van die strate in die kar sit en bid en verklaar dat ons nie verstaan nie, maar dat ons gehoorsaam sal wees, toe het ons diep in ons wese reeds geweet dat ons pad êrens in die toekoms Napier se hoofstraat sou kruis.

Toe ons die middag van 2 Januarie op Amsterdam se stoep sit en weet ons moet kies, was die keuse nie oor waarheen nie, want ons het geweet die Wind waai suid, maar eerder of ons kans sien!

So het die losmaak proses begin. Losmaak van Amsterdam. 'n Plaas met n familie verbintenis van 150 jaar, 'n persoonlike verbintenis van 50 jaar en 'n gesins verbintenis van 25 jaar. Dit was 'n intense 10 maande. Hoewel ek nooit sou kon dink dat ek ooit so 'n stap sou kon neem nie, was dit geestelik 'n reeds voorbereide pad, emosioneel het ek bonatuurlik “maklik”afskeid geneem.

Ek het in hierdie tyd baie aan my oor-oupagrootjie, HT Bührmann gedink. Wat in 1860 in die destydse Lourenco Marques (Maputo) aan wal gesmokkel is – sonder paspoort. Hoe hy in 'n totaal vreemde land aangekom het. Vyf geslagte het ons die voorreg gehad om op Amsterdam te kon boer. Wat sou die “significance”van 150 jaar wees? Dis 3 jubilees (3 x 50 jaar). Die Wind begin waai en die vyfde geslag (Genade) kry die geleentheid om iets nuuts te begin.
Kom ons na 9 maande aan in 'n land wat vir ons “vreemd”is, waar die somers droog is, waar die lente soos herfs voel, waar die plante in die somer in rus gaan. Waar somers 'n tyd van  brandgevaar is en die nat winters die fynbos en koring laat gedy, waar die wind uit vreemde rigtings waai. Waar jy in 'n winkel kom en niemand ken nie en miskien nog erger – niemand ken jou nie!! En tog is iets bekend......, voel dit vir oomblikke of ons nog altyd hier was.

14 November 2014. Ons is die nuwe eienaars van Breedevlei – of is ons rentmeesters, of is ons albei? Hoeveel genade jare sal ons en ons nageslag op Breedevlei hê?Dis 'n uitdaging om díe grond se siel te leer ken, om haar vertroue te wen, om haar die onregte en mishandelings van die verlede te laat vergeet, om haar weer in haar potensiaal te laat glo en haar die geleentheid te gee om te blom en vrug te dra!  Om 'n milieu te skep waar sy haar Skepper kan vereer. Dis 'n voorreg om nuut te kan begin, om te kan droom en beplan, om te kan skep en ontwerp.

Honderd-en-vyftig jaar gelede kom oupa HT in die land met sy tas en 'n paar besittings. Ons kom in 'n nuwe “land” met 'n groot vragmotor vol huisraad , 'n bakkie en 'n wa vol toerusting. Ons Google wat ons nie weet nie en ons foon sê hoe môre se weer gaan wees. Wat 'n voorreg!!

My pa is onlosmaaklik deel van my herinneringe aan Amsterdam. Liefde vir die grond het van hom gekom. Ek en sus Elra het verlede week ons pa gaan groet. (Riza het in September by hom gekuier.) Weereens wat 'n stuk genade om die laaste reëlings met hom te kon bespreek en hom te verseker dat alles in plek is. Om die versekering te hê, dat alles  wat gesê moes word gesê is en dat daar niks is wat nie afgehandel is nie! Dat hy vrede het en reg is om sy Skepper te ontmoet. Sy woorde: “ek het 'n goeie lewe gehad, ek is tevrede”. Een van die dae sal dit net die goeie en mooi herinneringe en sy draadtang ('n jare lange vennoot, wat so lank ek kan onthou onder sy bakkie se sitplek was en wat hy vir my as afskeidsgeskenk gegee het en nou se dae langs my bakkie se sitplek lê) wees wat ons sal laat onthou.

Die verlede is net herinneringe, die lewe is in vandag en ons hoop vir more is in Hom!

Wind, jy wat so waai
Waar kom jy vandaan en waarheen?
Sou die wolke dalk weet
As jy hul waai en druk en dryf?
Dalk die golwe van die see
Of bevrugte saad wat op jou wag,
Om weggevoer te word
Na nuwe lewe in die grond?

                                         (ook uit oom Johann se pen)

Friday, 14 November 2014

Die Dexters

Die Dexters kom Breedevlei toe - al die pad van Gouritsmond af.
6 November 2014

Die Butlers se plaas, Wolvefontein.
 Hulle verkoop hul heuning langs die pad. Gooi jou dertig rand in die pyp en vat jou heuning!
 Oppad terug Breedevlei toe...
Welkom Dexters!
Die Dexters vreet en ons rus lui-lekker in die laatmiddag son. Dit was n goeie dag!

Tuesday, 28 October 2014

Sunday, 19 October 2014

Die Man met die Koffer


n Gedig deur Berna van Zyl

Vanoggend word ek wakker.
Daar is n gehammer aan die deur.
Ek sluit die voordeur oop.
Daar staan hy
Met sy koffer in sy hand,
Gedaan...
Meneer Verlange.

Ek huiwer vir n oomblik.
Moet ek hom inlaat?
Hy het seker net soveel reg om hier te wees soos ek.
Ek nooi hom in.
“n Koppie koffie vir jou?”

Ons sit in ons nuwe sitkamer.
Ons kyk na mekaar met groot oe vol trane.
Dit is ongemaklik.
Dit is seer.

Ek verskuif my blik na sy koffer.
“Wat is in jou tas?”
Hy haal n foto uit.
Dit is ek in my ouma se rok
Op my pa se plaas –
Of eerder:
Dit was ek in my ouma se rok
Op die plaas wat my pa sin was.
Ek vra hom om asb die foto terug te vat.

Ek begin wonder...
“Het jy dalk my lapsker in daai koffer?”
Erens langs die pad,
Die groot trek,
Het ek my lapsker verloor.
Hy herriner my dat die lapsker in die boks is.
Die boks wat ek nog nie wil uitpak nie.
Die boks wat lees:
‘Lapsker, kamera, Elle, passie, talent...’
Met ander woorde
‘Verlede’.
Ek bid saggies en vra die Here:
“Asseblief hou díe boks in gedagte wanneer U my toekoms beplan.”

Ons was n oomblik stil.

Toe vra hy my oor my nuwe vriende.
“Is dit moontlik om so vinnig lief te word vir mense?
Ek het niks,
My hande is leeg en my hart is rou.
Al waavoor hulle kon lief word was die Berna van nou.”

Ek kyk na hom.
Ek sien my eie emosies in sy oe.
Ek onthou die seer van vorige vriendskappe.
Ek wil opstaan en die berge in hardloop!
Maar dit is te laat.
Hierdie mense is klaar in my hart.

“Hoe haal n mens negentien jaar in?”
Ek wil my vriende aan hom voorstel,
Met die hoop dat hulle so my verlede sal leer ken.
Maar hy sê nee.
Hy is hier,
Net vir my.
Hy sê met tyd sal hulle die negentien jaar –
Die vorige negentien jaar deur my leer ken.

Hy vra my oor die plaas.
“Dit was liefde met eerste oogopslag.
Maar ek en Breedevlei ken mekaar nog nie.
Ek moet nog baie kilometers stap,
Nog baie seisoene voel
En nog baie liters water drink
Voor ons werklik saam kan staan.”

Hy vra my oor die weer.
“Pappa se dit voel soos herfs,
Winderig en droog.
Dit is so.
My hart voel ook herfs.
Maar dit is asof my God belowe dat somer oppad is.
Want dis Oktober,
(Die mooiste mooiste maad)
Dit is nou tyd vir lente.
Die eerste lente na sewe jaar se winter.

Soos ons gesels begin die negatiwiteit weg syfer.
Ek gooi nog n bietjie soet heuning in my bitter koffie.
Hy vra nie meer vra nie.
Uit my eie uit begin ek vertel.
Hom vertel van al my nuwe ervarings...

Bloukraanvoëls,
Stap op die strand,
Wyn leer ken,
Fynbos,
Stock cars,
Afrikanse musiek,
My eie taal op die plaas,
Tennis speel,
Winde in die Overberg,
Hoofstraat geluide...

Ek sluk die laste bietjie koue koffie.
Toe ek opkyk
Met n glimlag wat nie wil los nie,
Is hy weg.
Verlange is weg.
Die koffer vol herrineringe het hy laat staan,
Asook sy vuil koffie beker.
Maar hy is weg.

Ek weet nie waarheen hy verdwyn het nie.
Weet nie of hy weer terug sal kom nie...