Monday, 21 March 2016

Tuis in my lyf.


Geskryf deur Carna van Zyl.
Maart 2016
My dagboek is vir my kosbaar. Daarin hou ek tred van ons elke dag se doen en late, skryf kortliks hoe ek voel, wat ek beleef. Met die aanpassing in 'n veranderdeleefwêreld die afgelope jaar het die daaglikse skryfroetine, stabiliteit help bring, en heel prakties gehelp om nuwe name en gesigte te onthou. In 'n poging om 'n meer geïntegreerde lewe te lei het ek weggedoen met 'n aparte geestelike joernaal, en leef al my inskrywings gelukkig saam op een bladsy. Selfs my geldelike uitgawes kry regs onder in die bladsy geringe aandag.
Dit alles doen ek in 'n groot A4 dagboek; 'n bladsy vir elke dag. Eintlik ontwerp vir besigheidsmense, want Saterdag en Sondag moet 'n bladsy deel, wat my soms frustreer. Ook inhibeer die rigiede lyntjies my soms, en my behoefte aan kreatiewiteit bevredig ek met die plak van prente, gesegdes en als wat werd is om te vertoon en onthou  te word.
Genoeg om te erken: die perfekte dagboek moet nog ontwerp word!
Twintigsestien was te vinnig op my, sodat Bertus inderhaas die helder oranje dagboek vir my koop. Onaansienlik. Al wat oor was teen middel Januarie, maar steeds nie op halfprys nie! Ek gaan hom nog oortrek met 'n stuk mooi lap! Maar intussen kan niemand my skree oranje dagboek op die lessenaar miskyk nie.
En Tussen die blaaie? My lewe. In mý woorde.
Hier vind ek my stem.
So nooi 'n nuwe vriendin my om te kom leer van "creative journaling". Ek is aanvanklik bietjie steeks skepties, maar gedagtig aan my behoefte vir meer kreatiewe vryheid in my dagboek, en die belofte van nuwe mense  ontmoet, stap ek Woensdag oggend in by die Craft Shoppie oorkant die plein in Bredasdorp. Riana verwelkom ons met 'n cappuccino en ons maak ons tuis rondom om die groot tafel in die middel van die klein winkeltjie.  Bewapen met penne, papier en prit vir prente plak, begin elkeen uitdrukking gee aan wat sy hoor, dink en voel rondom die tema van die dag: Jy is uniek.
Vir 'n begin ek kies donker swartgrys sugarpaper as agtergrond. 'n Ongewone swart en wit foto praat met my... Is dit die breë glimlagte? Die donker en wit polkadot rok? Sy lyk so tuis in haar lyf...
My gedagtes neem hul eie loop. Nuwe gedagtes kring wyer as die A4 collage, vloei verder as die bladsye van my  oranje dagboek. En begeesterd begin ek skryf op die nuwe tweedehandse tablet, 'n geskenk van my tegnologie boffin seun. Die moontlikheid om hierdie gedagtes met jou en die wye wêreld daar buite te deel, lê gemaklik bereikbaar onder my vingers…
  • -     -
Saam met jou het ek tot satwordens toe gelees oor die geweld op ons kampusse. Op hierdie einste tablet geluister na Lovelyn se toespraak by Maties se konvokasie. En probeer verstaan wat Breyten met sy gevleuelde woorde wou tuisbring! Met 'n hart wat ineenkrimp gekyk na die woede op die Kovsie rugbyveld. Met 'n knop in die keel gekyk na die  foto's van Tukkiestudente wat saam knielend bid vir vrede. Geskok geskrik vir die onbeheersde woordwoede op Facebook in antwoord op Max se oproep tot ons Afrikaner jeug om nie in geweld te reageer nie.
Saam met jou probeer ek sin maak van die wrede opvlam van rassehaat in ons Reënboognasie; probeer ek verstaan, probeer ek vrede kry, probeer ek vasstel wat my rol is.
Riana se woorde uit Hooglied 4:7 weerklink in my ore. Jy is uniek.
Ek is uniek. Kunstig aan mekaar geweef. Op wonderbaarlike wyse geskep na Sy beeld. Ek en jy.
Glo dit! Jy én ek!
Glo dit liewe langbeen meisiekind en stuur daai knaap in sy maai in wat jou kunstig geweefde lyfie stukkend wil skeur! Wéét jy is kosbaar! Of het niemand dit vir jou gesê nie? Was jou pa nie daar om vir jou te vertel dat jy sy pragtige meisiekind is nie? Was hy dalk ver weg op die myne, toe hy vir jou moes leer dat jy bekoorlik is?
Onlangs stop ons op 'n wit warm Saterdagmiddag by 'n supermark in Noord Natal opsoek na 'n koel lafenis. Die Zoeloe man agter die kasregister is verbaas om 'n wit vrou tussen die baie baie swart klante te sien. Hy is bot ongeskik met my. Ek betaal, hou my beurs stewiger vas en loop uit, dankbaar toe ons veilig verder kan ry. Ek sit in stilte en dink: meneer wat doen jy in die hokkie agter daai geldlaai? 'n Groot sterk Zoeloe man soos jy is mos geskep om buite fisies besig te wees. G'n wonder dat jy gefrustreerd is nie. En vanaand is jy steeds 'n gevangene in 'n sink kaya waar goedkoop leë westerse vermaak op tv vir jou voorgehou word as die lewe. Hoe sal jy enige iemand glo wat vir jou van die teendeel wil oortuig?
Ons samelewing is bitter ongesond.
Ek dink oor 'n vriendin wat gaan uithelp het by 'n kleuterskool.  Die opdrag saam met die skoon vel papier was eenvoudig: teken jouself. Die swart gesiggies glimlag trots met blinkwit tandjies, en hou vol afwagting hul kunswerke uit. Maar die nuwe juffrou soek na woorde. Op die wit bladsye pryk blonde langhaar Barbie poppe.
Hierdie hartseer fenomeen word onderskryf toe Berna vertel dat nie een van haar Zoeloe vriendinne op skool gelukkig was met hul hare nie.
Uniek geskep?
In dieselfde gees word John de Gruchy aangehaal in Maart se Leef "dit is ons plig om met liefdevolle oë na onsself te kyk omdat dit vir iemand sonder selfrespek haas onmoontlik is om ander te respekteer". (Oorgang, bl 12)
My gedagtes loop terug tot op Vaalkop, die plaas naby die Swaziland grens waar ek grootgeword het. Die skoolbus het ons vroeg soggens opgepik en smiddags weer uitgespoeg. Dan het ek gou huiswerk gedoen, sodat ek klaar is wanneer Keki van haar skool af kom. Ek het nie vrae gevra oor hoekom sy amper 'n uur moes stap na die eenvoudige skooltjie op die buurplaas nie. Ek het maar net gewag vir 'n maat wat saam in die plaasdam kon gaan swem.
As PUK student het die staking van ons koshuiskombuispersoneel my saggies uit my onkunde laat ontwaak. En as jong getroudes was die hantering van opstandige plaaswerkers vir Bertus en my 'n onrusbarende realiteit. My eerste naby blootstelling aan gelykheid in die arbeidsmark was by 'n rehabilitasie sentrum, en ek sal die Duitse sendeling ewig dankbaar bly vir die geleentheid, want met die geboorte van ons eersteling was ek opgewonde oor FW de Klerk se onderhandelings oor die moontlike vrylating van Nelson Mandela.
Ek onthou die dag in 1994 helder. Die hemelruim was gelaai. Ek het op die plaasstoep gestaan en kyk na die busse wat nuwe stemgeregtigdes aangery het stembusse toe. Ek het geweet iets het onherroeplik verander. Ten goede. Maar, om eerlik te wees, diep in my hart was ook 'n stukkie benoudheid.
'n Paar jaar later bevind ek en Bertus ons in 'n lesing lokaal, deel van 'n internasionale, veelrassige gehoor. Voor, weerskante van die bruin spreker was twee wit aantekening borde, twee opskrifte. Regs;White. Links; Black. Eerstens daag hy die swart en bruin mense uit om te lys hoe hulle wit mense sien. Dis 'n lang positiewe lys: Intelligent. Mooi. Slim. Hardwerkend. Suksesvol. Ryk. Skoon.
En toe is dit ons beurt: Stilte...
En ek daag jou nou uit, liewe leser. Hoe sien jy ons donkerkleurige landsgenote? Sê bietjie.
Ek hét.
Stotterend eerlik: Hulle kan nie beplan nie. Dom. Stink. Skelm? Lui? Onbetroubaar…
Soos mens dink en sê, so is dit. Lewe en dood lê in die tong.
Toe het die spreker, Wilson de Goeda, tussen die twee borde, vir ons begin vertel hoe apartheid sy lewe geraak... nee gevorm het, en ek het onbeskaamd gehuil. Ek kon nie my mede studente in die oë kyk nie. Ek was so skaam. So jammer. Die las was swaar. Na diep selfondersoek, het ons teen die einde van die week se lesings oor rekonsiliasie, die voorreg gehad om te kniel voor Mandla. Ons het sy voete gewas en vergifnis gevra vir die sondes van die bestel waarvan ons deel was. Gebid ons vir genade. En ons verkeerde gedagtepatrone die stryd aangesê.
Terug in Piet Retief het ons deel geword van 'n interkerklike gebedsgroep. My hart wou bars van vreugde toe ek langs 'n zoeloe mama staan en ons saam sing! Ek het geweet dat as wit Afrikaner ek nie God se volheid kan weerspieël nie. Maar in die verskeidenheid sal Sy volheid te voorskyn kom, want elke stam, taal, volk en nasie dra 'n stuk openbaring van ons groot God.
So was daar gereeld geleenthede waar ons namens ons volk, ons taal, ons nasie, kon vergifnis vra. Soos die dag toe mama Johanna Magagula vertel hoe haar pa dood is aan die hand van die Suid Afrikaanse veiligheidspolisie nadat hy sonder pas laataand oppad was huis toe vir die geboorte van sy dogter. Gevolglik het sy nooit haar pa geken nie, vertel sy kalm.  “Maar sy het vergewe” vertel sy met tranerige bruin ogies.
Ek was 'n getuie toe my man Maria se voete gaan was het. Daar voor haar sink hut, het hy gekniel en vergifnis gevra. Hy was jare gelede deel van 'n groep boere wat haar karige huisware op 'n vragmotor gelaai en op Dirkiesdorp ge-dump het. Die skaap wat ons saam gebring het as teken van restitusie is met 'n tou aan 'n paal vasgemaak. Hy het saam toegekyk, en hy het vir my betekenloos klein gelyk.
Mettertyd het die skuldlas ongemerk soos 'n donker wolk, gedurig saam met my begin beweeg. Dit was 'n swaar las.
Tot vandag toe nog is ek versigtig vir enige iets wat eksklusief Afrikaans is, soveel te meer as die onderwerp vir bespreking 16 Desember, Geloftedag is! Daarom dat ek ongemaklik rondgekyk het na die groot groep Afrikaners wat deur Tom Gouws in Klerksdorp byeen geroep is rondom 2007. Maar wat in wantroue begin, verander in 'n bevrydende dag! 'n Kort donker Ugandees, Shegun Olanipakun is een van die sprekers. Toe hy voor die groep boere staan, begin hy spottenderwys: It seems to me that I am the only one present, who needs to explain why I am here. Hy vertel hoe God hom gestuur het om die boere te kom oproep om hul plek in Suid Afrika (en die res van Afrika) in te neem. Terwyl hy praat loop my trane. Alweer. Ek besef dat ek vasgevang in skuldgevoelens is; skaam vir my volk van herkoms.
Na die naweek, kyk ek na twee geraamde laerskool foto’tjies van my en Bertus, geneem tydens my en Keki se saam swem dae in die plaasdam. Ek kyk en ek weet helder, duidelik, vas en seker: Ek was en is nie 'n fout nie. Ek is nie lukraak gebore in 'n Nasionaal Afrikaner huis nie. Dis so bedoel. En ek kan en moet my Afrikanerskap met trots dra. In die daaropvolgende week bid ek met ongekende outoriteit saam die Indier, Zoeloe en Bruin intersessors, seker van my roeping tot lig vir die nasies.
Die jarelange stryd rondom Bertus se geboortegrond en die dralende grondeis het ons eerstehands deel gemaak van die komplekse uitdagings van ons veelrassige land. Maar dié lang storie laat ek vir 'n volgende bladsy in my boek.
Vandag wil ek sê: Meneer Zuma; anders as wat jy mag glo, en anders as wat jy jou volgelinge hier voor die verkiesing wil wysmaak: Ek is 'n dogter van Afrika. En ek is hier om te bly, soos deur die Skepper van hemel en aarde bepaal. Ek is tuis hier. Alhoewel ek indentifiseer met Nataniël en soms ook bang, bedreigd en onseker voel. En terwyl ons nou vir Karen op die Sarie voorblad sien; ja! soms wil ek weghardloop na Zoid Afrika. Daai ministers maak immers my boere hart warm klop van trots! Maar ek is hier meneer Zuma. Ek het verantwoordelikheid geneem vir die foute van die verlede. En ek het vergifnis gevra. En ek is vergewe en vrygespreek. En ek weet my wit vel maak my niks meer nie. Maar ook niks minder nie. Want so is ons albei geskep. Uniek.
Ek glo dit.
Glo jy?  
Ns.Liewe Afrikaanssprekende!  Gaan koop vir jou Maart se Leef. Behalwe "Oorgang", lees ook "Vrede in die gewone" en moenie die agterbladartikel mis nie, die Joodse geskiedenis gee enige “onderdrukte” volk nuwe moed. Lees ook Nataniël se rubriek in die Sarie met Karien Zoid op die voorblad. En wees trots op wie jy is, en help elkeen wat jou pad kruis, om presies dieselfde oor homself te glo.

Saturday, 26 December 2015

Vriende en Familie kuier op Breedevlei

Van Prieska, die Paarl, Papiesvlei en Johannesburg - ons almal saam op Breedevlei!


Dankie Berna en Stef vir 'n lang tafel met liefde gedek. 

Dis lekker om saam te eet!
Thank you David Stroud for the koftas, couscous and skaapboud! 
Dankie Willie en Hennie vir die wyn en die heerlike bederf uit die Noord-Kaap!

Saturday, 19 December 2015

Eenvoud Boerdery Afsluiting

Twenty-fifteen was challenging, yet richly rewarding.
Ons het begin met ons voete in die stof, maar kon die jaar afsluit in ons pragtige blomstoor. Dankie aan ons lojale personeel.
The future is budding!









Monday, 7 December 2015

One year on Breedevlei!

To celebrate we bought three Waterbessie trees to plant at the flower shed and twelve Ficus Natalesis trees for next to the road.







 Bongumusa and Wian enjoy the brand new "shade"!

Thursday, 19 November 2015

MEATMASTERS



What a wonderful day! Twenty-six Meatmasters are on their way to Eenvoud Boerdery. Twenty-five ewes and one ram - All the way from Sutherland!

Saturday, 22 August 2015

Buitengracht straat.

Geskryf deur Carna van Zyl
20 Augustus 2015


... se verkeer spoed voor my verby. Ek sit agter groot glas mure. Daar is groot verskeidenheid restaurante en koffie winkels in die middestad waaruit ek kon kies, maar vanoggend val die keuse op The Roast. 'n Bietjie te modern met glas, chroom en leer; en selfs bietjie koud na my smaak. Maar ek maak my tuis by die toonbank, reg op die straat. Die uitsig is perfek!

Langs my sit 'n yuppie met 'n blink dun labtop. Die brilraam op sy neus net so dun en blink. Uit sy ore hang klankkabeltjies, hy is in 'n ander wêreld. Regs van my neem 'n vrou plaas. Ek het haar sien aankom, in swart geklee, hare bottel rooi met 'n pers skynsel. Met silverblink juwele. Baie daarvan; armbande aan beide gewrigte. Om haar nek 'n versameling goed wat hang. Vele vingers met ringe. Sy bestel swart koffie en lees vir 'n rukkie koerant. Dan maak sy twee oproepe. Ek hoor hoe sy kliente meedeel dat hul juweelstukke klaar en gereed is om afgehaal te word. Nou maak dit sin; “a walking advertisement!”

Die diens is goed, my cuppachino verskyn oomblikke nadat ek dit bestel het. Bedien in 'n roesbruin dikwand koppie. Die skuimkop getuig van 'n geoefende hand, met 'n bykans perfekte tulp versier. Ek proe versigtig. Heerlik! Terwyl ek stadig teug aan die ryk romerige bederf, vervorm die tulp in iets wat soos 'n protea lyk. Ek kry lag vir myself: jy sien gesigte blomboer se vrou!

Vanoggend loop my beker oor.

Ek en Berna is net na nege weg uit Napier. Bertus wou graag deel in die bederf dag, maar op die plaas word die fondasies gegooi vir die nuwe blomstoor. En Donderdae is bedrywig met laaste blombestellings wat moet uit voor die naweek. Ons pak dus die 170 km sonder hom aan, dankbaar dat hy vroegoggend die ergste modder van die Xtrail afgewas het. Ek is effens gespanne, ek is nog nie gemaklik met die skiereiland se baie paaie nie.

Maar oppad glimlag die Overberg gul met goud geel canola lande. Die damme blink blou en die heuwels rus sag groen met gars en koring. Net na Boontjieskraal opstal sien ons 'n groot trop bloukrane - langs die N2 staan fotograwe gefokus met lang lense.

Toe Sir Lowrys pas ons veilig oor die berg bring, groet Valsbaai vriendelik. Ons is nou lank genoeg in die Kaap om te weet hierdie windstil sonnige dag is nie 'n gegewe nie, en moet waardeer word. En ons doen!

Kaapstad, die Moederstad wag ons in.

En hier sit ek nou, veilig, midde haar woel en werskaf, hier langs een van haar hoof are, wat blink motors, toerbusse, afleweringstrokke heen en weer voer. Op teen die berg waar Buitengracht Kloofnek word, of af, waar dit via die N1 of N2 gebruikers wegvoer Noorde toe.

Haar kinders, op straat voor my,is  verteenwoordigend van ons diverse samelewing. Oorkant die straat stap 'n mama, baba knus op haar rug vasgeknoop, met nog 'n peutertjie aan die hand ook. Sy het 'n helder groenbont rok aan. Die kopdoek van die selfde lap hoog om haar kop gebind, soos 'n tulband, 'n kroon.

Vir hierdie bepalende onderhoud het Berna haar uitrusting goed deurdink; besluit op 'n groenbont Afrika lap vir 'n top. Gister is daar gou 'n baadjie gemaak van ripstop. Vir die knope moes ons vanoggend oppad op Somerset Wes by die lap winkel stop, die laaste een eers vasgewerk toe Tafelberg al vir ons knipoog!

As vanoggend se onderhoud goed verloop word Berna deel van Buitengracht se voetgangers. Voetganger, want met vier wiele soek jy  vir parkering en nog harder vir (genoeg!) parkeer geld.

Ek drink die uitsig in. Na regs troon Fedisa se rooi gebou hoog bo Tafelberg uit. Ek hou die studente wat kom en gaan, nuuskierig dop, sommige met groot sakke en ek kan my verbeel watter skeppings daaruit te voorskyn kom. Ek glo my Berna kind is gereed om haar verke te sprei. Wat 'n voorreg om dit hier in ons land se mode hoofstad te kom doen.

My beker loop oor. Van dankbaarheid.

Oor my Vader wat ons 'n  jaar gelede na Napier gelei, en daar gevestig het.
Wat ons in staat stel om ons twee talentvolle kinders hier te laat leer.
Dankbaar, omdat die meetsnoere vir ons in lieflike plekke val.

My hart loop oor van vreugde oor Wian wat vandag verjaar. Al kou hy harde bene. Toetse, take en praktiese klasse weerhou ons vandag van saamkuier. Maar ons sal darem die pakkie kudu biltong gaan aflaai vir laataand eet, alleen voor die boeke.

Voor my is Buitengracht verdeel in twee eenrigting strate, een bergop, die ander een af.Die breë middelman doen diens as broodnodige parkeerarea en is hier beplant met plataan bome. Op hierdie wintersoggend vertoon hul grys- wit, blaarloos met die stekelrige balletjies swart afgeëts teen die blou lug. Wit en grys meeue fladder op en 'n paar wat op die ligpaal voor my sitplek vind, herinner my dat Kaapstad 'n hawestad is.  

'n Lang donker man stap verby, steek die straat oor. Swart baard. Hy is geklee in 'n kuitlengte bruin rok, donker kouse met swart toerygskoene. 'n Westerse K-way baadjie beskerm hom teen die koue. Ek  verwag dat sy kop bedek sou wees? Wat is sy storie? Sien hy homself as 'n Suid Afrikaner?

Hy herinner my aan Mnr Badat, van Kempville in Piet Retief, waar ons almal wol gekoop het. Waar Berna soms shweshwe gekoop het. My ma sê hy vra gereeld na ons welstand. Wat maak dat hulle dikwels 'n lewe maak uit die verkoop van lappe. Selfs in Pretoria  by die grote Metro, moes ons al dikwels op 'n Vrydag middaguur voor dooi-mans-deur omdraai.   

Ek bestel water. Dit word bedien saam met 'n glas, ys en twee skyfies suurlemoen. Net soos ek daarvan hou. Op die deurskynend glas bottel lees ek. Mountain Falls. Ph 7. Sparkling. Perfectly balanced. Bottled at source Overberg Hermanus. 'n Gedetailleerde annalise van die minerale inhoud volg.

Minder as 'n meter van my af, anderkant die glas gordyn, stap 'n man verby. Stadig. Hy stop.  Buk versigtig, sodat sy aardse besittings wat hy op sy rug dra, hom nie van balans af trek nie. Hy tel 'n platgetrapte sigaretstompie op.

Ek weet nie wat om te dink nie. Bid? Maar wat vra ek?

Op die groot glas skuifdeure, wat outomaties oopskuif toe 'n jong paartjie mekaar vir middagete in The Roast ontmoet, lees ek: This area is under 24 hour camera surveillance for your protection.

Vader, hoe bou mens 'n brug oor die verskillende wêrelde?

My foon blieb. Berna se Whattsapp lees: "ek is uit" en die “emoticon” gesiggie lyk moedeloos; 'n sweetdruppeltjie op die voorkop. Bertus antwoord flink “wat van in?”  

Ek hou haar dop toe sy die besige Buitengracht oorsteek.


My moederhart bid geluidloos: Seën ons Here God, seën Afrika!