Winde van verandering
deur Bertus van Zyl
Toe vra die wind;
Waarom wil jy
weet
waar kom ek
vandaan en waarheen?
As ek jou sou
vra;
Wie is jy
en waarom is jy jy?
As jy die
antwoord vind
weet dan,
ek en jy
Ons is elk deel
van God se ryk,
Ek dien slegs die
groter plan.
Sonder Gees of
wil
word ek gestuur
na hier en daar.
Maar jy,
jy mag kies
waarheen.
Moet kies.
Of jy wil of nie.
(Johann Bührmann, Julie 2014 – Die Wind)
14 November 2014.
317 dae sedert ons daarvan bewus geword het dat die Wind ons lewens in 'n ander
rigting gaan waai. 2 Januarie 2014 – ons mag kies, nee ons moet kies, of ons
wil of nie. Wel, behalwe vir al die sentiment en emosies wat die kiesproses sou
beïnvloed, het ons geweet ons het eintlik reeds, presies 3 jaar gelede, gekies.
Toe ons nuwejaars-oggend 2011, sesuur in Napier se hoofstraat opry en probeer
hoor wat Vader van Napier wil sê en ons in een van die strate in die kar sit en
bid en verklaar dat ons nie verstaan nie, maar dat ons gehoorsaam sal wees, toe
het ons diep in ons wese reeds geweet dat ons pad êrens in die toekoms Napier
se hoofstraat sou kruis.
Toe ons die middag
van 2 Januarie op Amsterdam se stoep sit en weet ons moet kies, was die keuse
nie oor waarheen nie, want ons het geweet die Wind waai suid, maar eerder of
ons kans sien!
So het die
losmaak proses begin. Losmaak van Amsterdam. 'n Plaas met n familie verbintenis
van 150 jaar, 'n persoonlike verbintenis van 50 jaar en 'n gesins verbintenis
van 25 jaar. Dit was 'n intense 10 maande. Hoewel ek nooit sou kon dink dat ek
ooit so 'n stap sou kon neem nie, was dit geestelik 'n reeds voorbereide pad,
emosioneel het ek bonatuurlik “maklik”afskeid geneem.
Ek het in hierdie
tyd baie aan my oor-oupagrootjie, HT Bührmann gedink. Wat in 1860 in die
destydse Lourenco Marques (Maputo) aan wal gesmokkel is – sonder paspoort. Hoe
hy in 'n totaal vreemde land aangekom het. Vyf geslagte het ons die voorreg
gehad om op Amsterdam te kon boer. Wat sou die “significance”van 150 jaar wees?
Dis 3 jubilees (3 x 50 jaar). Die Wind begin waai en die vyfde geslag (Genade)
kry die geleentheid om iets nuuts te begin.
Kom ons na 9
maande aan in 'n land wat vir ons “vreemd”is, waar die somers droog is, waar
die lente soos herfs voel, waar die plante in die somer in rus gaan. Waar
somers 'n tyd van brandgevaar is en die nat
winters die fynbos en koring laat gedy, waar die wind uit vreemde rigtings
waai. Waar jy in 'n winkel kom en niemand ken nie en miskien nog erger –
niemand ken jou nie!! En tog is iets bekend......, voel dit vir oomblikke of
ons nog altyd hier was.
14 November 2014.
Ons is die nuwe eienaars van Breedevlei – of is ons rentmeesters, of is ons albei?
Hoeveel genade jare sal ons en ons nageslag op Breedevlei hê?Dis 'n uitdaging
om díe grond se siel te leer ken, om haar vertroue te wen, om haar die onregte
en mishandelings van die verlede te laat vergeet, om haar weer in haar potensiaal
te laat glo en haar die geleentheid te gee om te blom en vrug te dra! Om 'n milieu te skep waar sy haar Skepper kan
vereer. Dis 'n voorreg om nuut te kan begin, om te kan droom en beplan, om te
kan skep en ontwerp.
Honderd-en-vyftig
jaar gelede kom oupa HT in die land met sy tas en 'n paar besittings. Ons kom
in 'n nuwe “land” met 'n groot vragmotor vol huisraad , 'n bakkie en 'n wa vol
toerusting. Ons Google wat ons nie weet nie en ons foon sê hoe môre se weer
gaan wees. Wat 'n voorreg!!
My pa is
onlosmaaklik deel van my herinneringe aan Amsterdam. Liefde vir die grond het
van hom gekom. Ek en sus Elra het verlede week ons pa gaan groet. (Riza het in
September by hom gekuier.) Weereens wat 'n stuk genade om die laaste reëlings
met hom te kon bespreek en hom te verseker dat alles in plek is. Om die
versekering te hê, dat alles wat gesê
moes word gesê is en dat daar niks is wat nie afgehandel is nie! Dat hy vrede
het en reg is om sy Skepper te ontmoet. Sy woorde: “ek het 'n goeie lewe gehad,
ek is tevrede”. Een van die dae sal dit net die goeie en mooi herinneringe en
sy draadtang ('n jare lange vennoot, wat so lank ek kan onthou onder sy bakkie
se sitplek was en wat hy vir my as afskeidsgeskenk gegee het en nou se dae
langs my bakkie se sitplek lê) wees wat ons sal laat onthou.
Die verlede is
net herinneringe, die lewe is in vandag en ons hoop vir more is in Hom!
Waar kom jy vandaan
en waarheen?
Sou die wolke dalk
weet
As jy hul waai en
druk en dryf?
Dalk die golwe
van die see
Of bevrugte saad wat
op jou wag,
Om weggevoer te
word
Na nuwe lewe in
die grond?
(ook uit oom
Johann se pen)