Monday 1 December 2014

Winde van verandering #2
deur Carna van Zyl



Sondagmiddag, 14 November 2014. Uiteindelik! Na maande se bid, bespreek, vergader en eindelose papierwerk is ons die trotse, versigtig optimistiese, soms blatant benoude eienaars van Breedevlei plaas.

Ons spandeer die middag onder die pragtige Stonepine bome. Die Dexters staan nuuskierig nader. Boxer en Coco geniet die veld en snuffel in die swart turf onder n slangbos agter molle aan. Almal help soek na Honey, die nuutste Dexie. Ons vind haar tussen die dekrietpolle waar haar ma haar versteek het. Wian maak dennepitte bymekaar vir vanaand se slaai. Ook Bongumusa kuier saam voordat hy more die lang pad Swaziland toe neem.

Ons kuier in die skadu. Neem fotos.  Stry oor die beste plek om ons droomhuis te bou. Maar meestal is ons vredevol stil. En geniet die vars lug, die uitgestrekte veld, die blou hemel. Dankbaar. Vir die wete dat ons veilig is in Sy hand.


Die foto laat my ver terug dink. Terug na 1996. Toe my pragtige dogter nog op wankelrige beentjies begin loop het. Vir die laaste drie maande van daardie jaar het ons gesin ook die Kaap huis genoem. Meer spesifiek, Muizenberg, waar ons saam met mense van oor die hele wereld, studente was by YWAM. Opsoek na Yahweh se plan vir ons lewe. In daardie tyd sien medestudent Brandon in sy geestesoog hoe Vader ons blaas  soos n dandelion, van Muizenberg af, die wereld vol. Oral waar n saadjie val, skiet dit wortel en groei.
Ek dink aan winde van verandering. Die wind wat die afgelope naweek met vors gewaai het, sodat my skoon huisie in Napier, spog met n dik lagie stof! Ook in Piet Retief het n stormsterk wind gewaai. Vandaar die mooi sonsondergang fotos  op Facebook. Ek dink aan Sy wind wat ons terug gewaai het na die mees suidelike punt van Afrika. Dit laat my dink aan die lied wat ons verlede Sondag gesing het.

“This is the great Southland
Of the Holy Spirit
A land of red dust plains
And winter rains
To this sunburned land
We wil see a flood
And to this great southland
His Spirit comes





Friday 21 November 2014

Winde van verandering
deur Bertus van Zyl



Toe vra die wind;
Waarom wil jy weet
waar kom ek vandaan en waarheen?
As ek jou sou vra;
Wie is jy
 en waarom is jy jy?
As jy die antwoord vind
weet dan,
ek en jy
Ons is elk deel van God se ryk,
Ek dien slegs die groter plan.
Sonder Gees of wil
word ek gestuur na hier en daar.
Maar jy,
jy mag kies waarheen.
Moet kies.
Of jy wil of nie.
                                                                                
                                                                  (Johann Bührmann, Julie 2014 – Die Wind)

14 November 2014. 317 dae sedert ons daarvan bewus geword het dat die Wind ons lewens in 'n ander rigting gaan waai. 2 Januarie 2014 – ons mag kies, nee ons moet kies, of ons wil of nie. Wel, behalwe vir al die sentiment en emosies wat die kiesproses sou beïnvloed, het ons geweet ons het eintlik reeds, presies 3 jaar gelede, gekies. Toe ons nuwejaars-oggend 2011, sesuur in Napier se hoofstraat opry en probeer hoor wat Vader van Napier wil sê en ons in een van die strate in die kar sit en bid en verklaar dat ons nie verstaan nie, maar dat ons gehoorsaam sal wees, toe het ons diep in ons wese reeds geweet dat ons pad êrens in die toekoms Napier se hoofstraat sou kruis.

Toe ons die middag van 2 Januarie op Amsterdam se stoep sit en weet ons moet kies, was die keuse nie oor waarheen nie, want ons het geweet die Wind waai suid, maar eerder of ons kans sien!

So het die losmaak proses begin. Losmaak van Amsterdam. 'n Plaas met n familie verbintenis van 150 jaar, 'n persoonlike verbintenis van 50 jaar en 'n gesins verbintenis van 25 jaar. Dit was 'n intense 10 maande. Hoewel ek nooit sou kon dink dat ek ooit so 'n stap sou kon neem nie, was dit geestelik 'n reeds voorbereide pad, emosioneel het ek bonatuurlik “maklik”afskeid geneem.

Ek het in hierdie tyd baie aan my oor-oupagrootjie, HT Bührmann gedink. Wat in 1860 in die destydse Lourenco Marques (Maputo) aan wal gesmokkel is – sonder paspoort. Hoe hy in 'n totaal vreemde land aangekom het. Vyf geslagte het ons die voorreg gehad om op Amsterdam te kon boer. Wat sou die “significance”van 150 jaar wees? Dis 3 jubilees (3 x 50 jaar). Die Wind begin waai en die vyfde geslag (Genade) kry die geleentheid om iets nuuts te begin.
Kom ons na 9 maande aan in 'n land wat vir ons “vreemd”is, waar die somers droog is, waar die lente soos herfs voel, waar die plante in die somer in rus gaan. Waar somers 'n tyd van  brandgevaar is en die nat winters die fynbos en koring laat gedy, waar die wind uit vreemde rigtings waai. Waar jy in 'n winkel kom en niemand ken nie en miskien nog erger – niemand ken jou nie!! En tog is iets bekend......, voel dit vir oomblikke of ons nog altyd hier was.

14 November 2014. Ons is die nuwe eienaars van Breedevlei – of is ons rentmeesters, of is ons albei? Hoeveel genade jare sal ons en ons nageslag op Breedevlei hê?Dis 'n uitdaging om díe grond se siel te leer ken, om haar vertroue te wen, om haar die onregte en mishandelings van die verlede te laat vergeet, om haar weer in haar potensiaal te laat glo en haar die geleentheid te gee om te blom en vrug te dra!  Om 'n milieu te skep waar sy haar Skepper kan vereer. Dis 'n voorreg om nuut te kan begin, om te kan droom en beplan, om te kan skep en ontwerp.

Honderd-en-vyftig jaar gelede kom oupa HT in die land met sy tas en 'n paar besittings. Ons kom in 'n nuwe “land” met 'n groot vragmotor vol huisraad , 'n bakkie en 'n wa vol toerusting. Ons Google wat ons nie weet nie en ons foon sê hoe môre se weer gaan wees. Wat 'n voorreg!!

My pa is onlosmaaklik deel van my herinneringe aan Amsterdam. Liefde vir die grond het van hom gekom. Ek en sus Elra het verlede week ons pa gaan groet. (Riza het in September by hom gekuier.) Weereens wat 'n stuk genade om die laaste reëlings met hom te kon bespreek en hom te verseker dat alles in plek is. Om die versekering te hê, dat alles  wat gesê moes word gesê is en dat daar niks is wat nie afgehandel is nie! Dat hy vrede het en reg is om sy Skepper te ontmoet. Sy woorde: “ek het 'n goeie lewe gehad, ek is tevrede”. Een van die dae sal dit net die goeie en mooi herinneringe en sy draadtang ('n jare lange vennoot, wat so lank ek kan onthou onder sy bakkie se sitplek was en wat hy vir my as afskeidsgeskenk gegee het en nou se dae langs my bakkie se sitplek lê) wees wat ons sal laat onthou.

Die verlede is net herinneringe, die lewe is in vandag en ons hoop vir more is in Hom!

Wind, jy wat so waai
Waar kom jy vandaan en waarheen?
Sou die wolke dalk weet
As jy hul waai en druk en dryf?
Dalk die golwe van die see
Of bevrugte saad wat op jou wag,
Om weggevoer te word
Na nuwe lewe in die grond?

                                         (ook uit oom Johann se pen)

Friday 14 November 2014

Die Dexters

Die Dexters kom Breedevlei toe - al die pad van Gouritsmond af.
6 November 2014

Die Butlers se plaas, Wolvefontein.
 Hulle verkoop hul heuning langs die pad. Gooi jou dertig rand in die pyp en vat jou heuning!
 Oppad terug Breedevlei toe...
Welkom Dexters!
Die Dexters vreet en ons rus lui-lekker in die laatmiddag son. Dit was n goeie dag!

Tuesday 28 October 2014

Sunday 19 October 2014

Die Man met die Koffer


n Gedig deur Berna van Zyl

Vanoggend word ek wakker.
Daar is n gehammer aan die deur.
Ek sluit die voordeur oop.
Daar staan hy
Met sy koffer in sy hand,
Gedaan...
Meneer Verlange.

Ek huiwer vir n oomblik.
Moet ek hom inlaat?
Hy het seker net soveel reg om hier te wees soos ek.
Ek nooi hom in.
“n Koppie koffie vir jou?”

Ons sit in ons nuwe sitkamer.
Ons kyk na mekaar met groot oe vol trane.
Dit is ongemaklik.
Dit is seer.

Ek verskuif my blik na sy koffer.
“Wat is in jou tas?”
Hy haal n foto uit.
Dit is ek in my ouma se rok
Op my pa se plaas –
Of eerder:
Dit was ek in my ouma se rok
Op die plaas wat my pa sin was.
Ek vra hom om asb die foto terug te vat.

Ek begin wonder...
“Het jy dalk my lapsker in daai koffer?”
Erens langs die pad,
Die groot trek,
Het ek my lapsker verloor.
Hy herriner my dat die lapsker in die boks is.
Die boks wat ek nog nie wil uitpak nie.
Die boks wat lees:
‘Lapsker, kamera, Elle, passie, talent...’
Met ander woorde
‘Verlede’.
Ek bid saggies en vra die Here:
“Asseblief hou díe boks in gedagte wanneer U my toekoms beplan.”

Ons was n oomblik stil.

Toe vra hy my oor my nuwe vriende.
“Is dit moontlik om so vinnig lief te word vir mense?
Ek het niks,
My hande is leeg en my hart is rou.
Al waavoor hulle kon lief word was die Berna van nou.”

Ek kyk na hom.
Ek sien my eie emosies in sy oe.
Ek onthou die seer van vorige vriendskappe.
Ek wil opstaan en die berge in hardloop!
Maar dit is te laat.
Hierdie mense is klaar in my hart.

“Hoe haal n mens negentien jaar in?”
Ek wil my vriende aan hom voorstel,
Met die hoop dat hulle so my verlede sal leer ken.
Maar hy sê nee.
Hy is hier,
Net vir my.
Hy sê met tyd sal hulle die negentien jaar –
Die vorige negentien jaar deur my leer ken.

Hy vra my oor die plaas.
“Dit was liefde met eerste oogopslag.
Maar ek en Breedevlei ken mekaar nog nie.
Ek moet nog baie kilometers stap,
Nog baie seisoene voel
En nog baie liters water drink
Voor ons werklik saam kan staan.”

Hy vra my oor die weer.
“Pappa se dit voel soos herfs,
Winderig en droog.
Dit is so.
My hart voel ook herfs.
Maar dit is asof my God belowe dat somer oppad is.
Want dis Oktober,
(Die mooiste mooiste maad)
Dit is nou tyd vir lente.
Die eerste lente na sewe jaar se winter.

Soos ons gesels begin die negatiwiteit weg syfer.
Ek gooi nog n bietjie soet heuning in my bitter koffie.
Hy vra nie meer vra nie.
Uit my eie uit begin ek vertel.
Hom vertel van al my nuwe ervarings...

Bloukraanvoëls,
Stap op die strand,
Wyn leer ken,
Fynbos,
Stock cars,
Afrikanse musiek,
My eie taal op die plaas,
Tennis speel,
Winde in die Overberg,
Hoofstraat geluide...

Ek sluk die laste bietjie koue koffie.
Toe ek opkyk
Met n glimlag wat nie wil los nie,
Is hy weg.
Verlange is weg.
Die koffer vol herrineringe het hy laat staan,
Asook sy vuil koffie beker.
Maar hy is weg.

Ek weet nie waarheen hy verdwyn het nie.
Weet nie of hy weer terug sal kom nie...

Tuesday 7 October 2014

Meiringspoort

Meiringspoort

On our way to Bloefontein for Bertie & Alette's wedding we stopped at Meiringspoort...








Dear Blue Crane

The Blue Cranes and pigeons having a wonderful time on Breedevlei.


Photographed by Berna van Zyl

Tuesday 16 September 2014

Arniston/Waenhuiskrans



Ons Saterdag oggend op Waenhuiskrans...

Ons het nie mooi geweet wat om te verwag van hierdie uitstappie nie. Ons het geweet dit sal mooi wees - maar ons het verseker nie SO baie pret verwag nie. Die seuns was maar bietjie traag om  die All Blacks en die Bokke agter te laat vir n uitstappie see toe. Die honde was half verward toe hulle  agter in die X-Trail gelaai word. Hulle was nog nooit tevore hierdie voorreg gegun nie. 

Uit Napier, deur Bredasdorp, tjoef-tjaf en toe is ons in Waenhuiskrans. Ons het almal eers in ongeloof na mekaar gekyk en gevra: Is dit moontlik dat ons net 40 km van die see af kan woon? Dit is dan net so ver soos van Amsterdam Plaas af dorp toe!

Oom Leon het ons goed voorberei. Ons moes die volgende in pak:
- n skinkbord
- wetwipes
- n skerp mes
Hy het verduidelik waar ons die vriendelike James agter die kafee toonbank kon kry, maar te gewillig om vir ons n Gatsby saam te vlans. Ons ruil ons R130 vir die een reuse Gatsby, drie bottletjies gaskoeldrank, twee botteltjies water (vir die honde) en vyf sjokalade stafies. 

Op die strand vorm ons toe n sikel om die Gatsby (1) sodat ons die wind en sand weg kan hou en (2) sodat ons elkeen ons stukkie Gatsby met die hand kan bykom. Ons het almal ons volle porsie in, selfs die studente het hul slaptjips vir die week in gekry! Daarna het ons vingers afgelek en toe die vyf sjokaldes soos lootjies getrek. Die een wat ontevrede was met sy lekker moes maar soebat en smeek om om te ruil vir n ander een. Later het ons elkeen ons gunstelling gehad; met name soos Xone en Teo!

Na die fees gaan was mens jou hande in die koue sout see water.

Ons het gaan stap langs die strand met ons honde en lank gebak in die son. En klippies opgetel op die onbesoedelde strand. Mamma het n paar fotos geneem van die winkeltjies, eet plekkies en B&Bs wat sommer so uit die visserhuisies bedryf word. Volgende keer gaan ons beslis by Wileens se Arts & Crafts n 'meal' eet!  

Daarna het ons in die kar geklim met sanderige voete en wind verwaaide hare , gevoed na liggaam en gees.








Fietsry op Breedevlei

Fietsry op Breedevlei


Thursday 11 September 2014

Die tafel, die weerlig en die Koning van konings




My vlees vra,
“Moet nie te diep dink nie, Berna.
Moet nie al die emosies en gedagtes probeer bewoord nie.
Rus net.”
Maar, al voel ek gedaan na ses maande se swaar dra aan my sewe sakke sout
Sing my gees n gebed van dankbaarheid
n Pryslied aan Yahushua.

“I wouldn’t trade this piece of soil for all the riches of the world”
Was my woorde,
November twintig dertien.
Ek was lief vir Amsterdam Plaas.

Ek onthou die kombuis tafel –
Die put van die plaas huis.
Daar het ons menige gesprekke gevoer,
Die toekoms beplan,
Kwaad gevoelens tussen mekaar uitgestryk,
Moeilike situasies deur gestoei,
Mekaar geseen,
Vriende gevoed,
En ek weet God se engele het op die tafel gedans
Elke keer as ons vars plaas produkte
In n maaltyd – n FEESMAAL verwerk het;
Saam as gesin daaraan gesmul het.

Ek onthou die aand wat U vir MY gegee het.
Die aand toe die weerlig
Op die ritme van die donderweerlied gewals het.
Toe Swaziland se hemel my teater was.
Ek was alleen omring deur lewe.
U het al my gedagtes en drome op gesnipper;
Oor my gestrooi soos goue konfettie oor n bruid.
Net daar het ek geweet my God is groot.

Dit was groter as Amsterdam –
Dit was Swaziland en sy koning
Dit was die buurman se plaas
Dit was Hlanganpisi en Heyshopedam
Dit was die paleise en die shacks
Die Afrikaner in my hart
Die Zulu in my verlede
Die bruin man in my toekoms

Almal.
Alles.
Het voor die Koning gebuig.

182 dae later
1135 myl van Swaziland af
150 bokse tussen toe en nou

Vind ek myself op n ander man se grond.
So lief as wat ek vir Amsterdam was,
So lief het ek vir Breedevlei geword.
Die verlange na Amsterdam het nog nie opgedaag nie.
Ek weet ook nie of dit gaan nie.
Nou weet ek dat díe stukke grond n klein part in n merske masjien is.

Die Een wat die weerlig wals op Amsterdam gediregeer het
Is die Een wat heers oor Breedevlei.
Is die Een was díe water uit die aarde laat vloei.
Is die Een wat díe berge so geplaas het om n breede vlei te vorm.
Is die Een wat hierdie juweel weggesteek het.
Is die Een wat besluit het om my die vooreg –
Die ONVERDIENDE vooreg te gun om vandag hier te mag staan.
Hy is die Koning van die heelal wat in my leef.
Yahushua is my enigste hoop.

Dankie Vader.
Ek sal hierdie stukkie grond waardeer, koester, oppas, lief he...
Tot die dag wat U my anders opdrag gee.


Deur Berna van Zy,l 9 September 2014

(Weerliglied: The blur, the line and the thickest of onions deur Little Comets)   

Sunday 7 September 2014

Our week in a (visual) nutshel

Our week in a (visual) nutshell

The 'groot trek'
Moving into our Napier house
Dinner at the Vissers
Breedevlei
Our first Napier number-plate
Sunday lunch