Friday 21 November 2014

Winde van verandering
deur Bertus van Zyl



Toe vra die wind;
Waarom wil jy weet
waar kom ek vandaan en waarheen?
As ek jou sou vra;
Wie is jy
 en waarom is jy jy?
As jy die antwoord vind
weet dan,
ek en jy
Ons is elk deel van God se ryk,
Ek dien slegs die groter plan.
Sonder Gees of wil
word ek gestuur na hier en daar.
Maar jy,
jy mag kies waarheen.
Moet kies.
Of jy wil of nie.
                                                                                
                                                                  (Johann Bührmann, Julie 2014 – Die Wind)

14 November 2014. 317 dae sedert ons daarvan bewus geword het dat die Wind ons lewens in 'n ander rigting gaan waai. 2 Januarie 2014 – ons mag kies, nee ons moet kies, of ons wil of nie. Wel, behalwe vir al die sentiment en emosies wat die kiesproses sou beïnvloed, het ons geweet ons het eintlik reeds, presies 3 jaar gelede, gekies. Toe ons nuwejaars-oggend 2011, sesuur in Napier se hoofstraat opry en probeer hoor wat Vader van Napier wil sê en ons in een van die strate in die kar sit en bid en verklaar dat ons nie verstaan nie, maar dat ons gehoorsaam sal wees, toe het ons diep in ons wese reeds geweet dat ons pad êrens in die toekoms Napier se hoofstraat sou kruis.

Toe ons die middag van 2 Januarie op Amsterdam se stoep sit en weet ons moet kies, was die keuse nie oor waarheen nie, want ons het geweet die Wind waai suid, maar eerder of ons kans sien!

So het die losmaak proses begin. Losmaak van Amsterdam. 'n Plaas met n familie verbintenis van 150 jaar, 'n persoonlike verbintenis van 50 jaar en 'n gesins verbintenis van 25 jaar. Dit was 'n intense 10 maande. Hoewel ek nooit sou kon dink dat ek ooit so 'n stap sou kon neem nie, was dit geestelik 'n reeds voorbereide pad, emosioneel het ek bonatuurlik “maklik”afskeid geneem.

Ek het in hierdie tyd baie aan my oor-oupagrootjie, HT Bührmann gedink. Wat in 1860 in die destydse Lourenco Marques (Maputo) aan wal gesmokkel is – sonder paspoort. Hoe hy in 'n totaal vreemde land aangekom het. Vyf geslagte het ons die voorreg gehad om op Amsterdam te kon boer. Wat sou die “significance”van 150 jaar wees? Dis 3 jubilees (3 x 50 jaar). Die Wind begin waai en die vyfde geslag (Genade) kry die geleentheid om iets nuuts te begin.
Kom ons na 9 maande aan in 'n land wat vir ons “vreemd”is, waar die somers droog is, waar die lente soos herfs voel, waar die plante in die somer in rus gaan. Waar somers 'n tyd van  brandgevaar is en die nat winters die fynbos en koring laat gedy, waar die wind uit vreemde rigtings waai. Waar jy in 'n winkel kom en niemand ken nie en miskien nog erger – niemand ken jou nie!! En tog is iets bekend......, voel dit vir oomblikke of ons nog altyd hier was.

14 November 2014. Ons is die nuwe eienaars van Breedevlei – of is ons rentmeesters, of is ons albei? Hoeveel genade jare sal ons en ons nageslag op Breedevlei hê?Dis 'n uitdaging om díe grond se siel te leer ken, om haar vertroue te wen, om haar die onregte en mishandelings van die verlede te laat vergeet, om haar weer in haar potensiaal te laat glo en haar die geleentheid te gee om te blom en vrug te dra!  Om 'n milieu te skep waar sy haar Skepper kan vereer. Dis 'n voorreg om nuut te kan begin, om te kan droom en beplan, om te kan skep en ontwerp.

Honderd-en-vyftig jaar gelede kom oupa HT in die land met sy tas en 'n paar besittings. Ons kom in 'n nuwe “land” met 'n groot vragmotor vol huisraad , 'n bakkie en 'n wa vol toerusting. Ons Google wat ons nie weet nie en ons foon sê hoe môre se weer gaan wees. Wat 'n voorreg!!

My pa is onlosmaaklik deel van my herinneringe aan Amsterdam. Liefde vir die grond het van hom gekom. Ek en sus Elra het verlede week ons pa gaan groet. (Riza het in September by hom gekuier.) Weereens wat 'n stuk genade om die laaste reëlings met hom te kon bespreek en hom te verseker dat alles in plek is. Om die versekering te hê, dat alles  wat gesê moes word gesê is en dat daar niks is wat nie afgehandel is nie! Dat hy vrede het en reg is om sy Skepper te ontmoet. Sy woorde: “ek het 'n goeie lewe gehad, ek is tevrede”. Een van die dae sal dit net die goeie en mooi herinneringe en sy draadtang ('n jare lange vennoot, wat so lank ek kan onthou onder sy bakkie se sitplek was en wat hy vir my as afskeidsgeskenk gegee het en nou se dae langs my bakkie se sitplek lê) wees wat ons sal laat onthou.

Die verlede is net herinneringe, die lewe is in vandag en ons hoop vir more is in Hom!

Wind, jy wat so waai
Waar kom jy vandaan en waarheen?
Sou die wolke dalk weet
As jy hul waai en druk en dryf?
Dalk die golwe van die see
Of bevrugte saad wat op jou wag,
Om weggevoer te word
Na nuwe lewe in die grond?

                                         (ook uit oom Johann se pen)

Friday 14 November 2014

Die Dexters

Die Dexters kom Breedevlei toe - al die pad van Gouritsmond af.
6 November 2014

Die Butlers se plaas, Wolvefontein.
 Hulle verkoop hul heuning langs die pad. Gooi jou dertig rand in die pyp en vat jou heuning!
 Oppad terug Breedevlei toe...
Welkom Dexters!
Die Dexters vreet en ons rus lui-lekker in die laatmiddag son. Dit was n goeie dag!