Sunday 1 March 2015

Dinsdag in die dorp.

Dinsdag in die dorp
Geskryf deur Carna 

Piet Retief. Ons altwee se geboorteplek. Grootword dorp. Bertus het die eerste lewenslig aanskou in Bambino Kraaminrigting, en ek minder as 'n jaar later in Piet Retief hospitaal. Altwee op plase in die omgewing leer loop, ek op Vaalkop, 16km suidoos van die dorp naby Swaziland se grens, en Bertus 40km in die teenoorgestelde rigting, Volksrust se kant toe. Albei by die legendariese juffrou Marie Groenewald leer lees en skryf. Mekaar leer ken en liefkry op Hoerskool, en na salige student jare op Potchefstroom, saam-saam die gee en neem van die lewe leer verwerk op Amsterdam, Bertus se erfgrond.

Dus is Piet Retief ons dorp.

Was Piet Retief ons dorp. Gewees. Want sedert ander half jaar is ons nou Napierdorpers. Overbergers. Inkommers.

Onlangs het ons inderhaas die lang pad Noorde toe geneem, terug Piet Retief toe. Ons het vir Skoonpa gaan begrawe, in die ou begraafplaas, daar waar Kerkstraat, N2 word, oorkant die ou hospitaal. Daar waar ons 22 jaar gelede ook ons eie klein Altus begrawe het.
So het ons 'n paar dae in ons geboorte dorp spandeer.

Kosbare dae. Een bitter besige dag, besef ek eers by ons terugkeer na Napier,toe ek my dagboek op datum bring, en al die besoekpunte van daardie laaste Dinsdag in Piet Retief neerpen.

Ons was tuis in my ma se huis, al was sy en pa uitstedig, op hul halfjaarlikse vakansie. Terwyl ek daardie Dinsdagoggend stort onthou ek skielik dat ons 'n beriggie van pa Bertus se afsterwe, in die plaaslike koerantjie wil plaas. Ek weet uit ondervinding dat artikels vroeg Dinsdagoggend gereed moet wees vir Vrydag se Bollie. Ons is heel betyds toe ons die beriggie met meegaande foto by Excelsior Drukkers aflaai.

Terwyl ek my skryfvernuf ingespan het, het Bertus intussen met Bessie by Richter&Weber vergader. Hulle is ons boekhouers, het die pad met ons gestap in die verkoop van Amsterdam, ook oor die lang afstand gehelp met die vestiging van Eenvoud Boerdery in Napier. Hulle bied ook aan om pa se boedel te hanteer. Dankie besige bytjie… ek bedoel, Bessie!

Nog 'n helder oomblik in die stort het my laat onthou van skoonsus Elra se blompot voor in die kerk. Bertus gaan bedank vir Barbie en Ester in die kerkkantoor, terwyl ek die blompot gaan soek waarin die pragtige koningsproteas was, dieselfde proteas wat pa se eenvoudige denne kis versier het. Die Groot kerkgebou is stil op die weeksoggend. Ek staan 'n oomblik stil voor die preekstoel en kyk na die rye hout banke. Sondag na Sondag het ons daar gesit; al vyf saam met ma onder die oos galery. Destyds het pa nog hier voor in die kerkraadsbanke gesit. Bertus en sy pa net so getrou, onder die suid galery.

Ja, natuurlik het ek vir hom geloer! Hoeveel belewenisse het ons nie hier gehad nie!

In die konsistorie soek ek my oupa VD Colf se foto tussen die ander oud predikante. Ek talm nie langer nie, vind die blompot in die gangetjie na die moederskamer, en laat myself nie toe om te diep te dink nie. Daar is nog veel te doen.

Weer verdeel ek en Bertus kragte. Terwyl hy en ma Alma vir Lappies by Sanlam gaan sien, help ek vir Berna geskenke soek vir Lelanie. 'n Iets vir haar kombuisie by Clicks, 'n mooi glasblompot as troupersent by die apteek, en blomme by Ilanga vir haar verjaarsdag. En tong-in-die-kies; 'n klein “babygrow” by woollies. (Snaaks hoe 'n Woolworths statuur aan 'n klein dorpie kan gee!) 'n Alles-in-een geskenk , want Berna sal waarskynlik nie deel wees van haar vriendin se spesiale dae wat wag in die toekoms, nie.

Ons volgende stop is by Post Net. ‘Go big or go home’ het gebore Piet Retiewer, Charlene 'n paar jaar gelede besluit. En daarom spog hulle oa met 'n GROOT drukker en Laser cutter. Ek is dankbaar vir die vele geleenthede in die verlede waar Melinda letterlik uitdrukking gegee het aan Berna se liefde vir ontwerp en kleur, in kwaliteit! Hulle het juis pa Bertus se begrafnis briefie gedruk en op hierdie Dinsdag oggend druk ons gou vir ma Alma 'n paar foto’s van die begrafnis. As ons volgende week ver is, kan dit ons ‘naby’ hou.

Bertus besorg vir ma Alma by haar huis. Sy is baie dankbaar dat hy al die papierwerk saam met haar kon afhandel.

Pa se dood was nie onverwags nie. Ma Alma het hom getrou met Duitse vasberadenheid versorg selfs toe hy al bedlêend was, ten spyte van haar eie 84 jaar. Ons het daarop aangedring dat hy oorgeplaas word na Huis Immergroen se verswakte afdeling. Hier is hy medies versorg deur professionele personeel. Geestelik is hy versorg deur sy vriend Gys Wessels, wat gereeld saam met hom Bybel gelees en gebid het. Toe ons vir oom Gys gaan dankie se met 'n bottel moskonfyt uit die Kaap, vertel hy met blink oe hoe hy die krag van die Woord daar in die klein kamertjie ervaar het. Oom Gys het self onlangs vir Tannie Tinneke begrawe, en maar onlangs eers ingetrek by Villa Sandra. Hy wys met ooglopende trots pragtige ou foto’s van sy pragtige vrou, wat hang bokant die enkelbed. Voor sy eenkamer woonstelletjie staan groenbone hoog gerank tussen ander groente. Sy buurvrouens het elk 'n plukseltjie bone uit sy tuintjie gekry.

Een van die buurvroue is Tannie Kate. Haar man, oom Piet Bioscope was 'n goeie vriend van ons pa. Saam het hulle menige bees laat slag en die vleis verwerk, vir die kerkbasaar en laterjare juis vir die ouetehuis , om die krimpende staatshulp te help rek. Tannie Kate is hartseer, sy moes onlangs ook haar seun begrawe. Maar gou vertel sy met blinkbruin ogies van haar jare as tandarts assistent in Piet Retief se hoofstraat, daar waar Nando’s deesdae is. Bertus onthou dit goed, hy moes self die twee blokke stap van die laerskool af, om skewe tande reguit te laat trek; dankbaar vir die vriendelike tannie wat 'n klein seuntjie se hand vashou terwyl die kwaai dr Brink sy ding doen.

Op pad uit, loop ons ons vas in Tannie Paddy . Nog een van die bevoorregte boon buurvroue. Sy kom pas van Retiefville af, die tradisioneel bruin woongebied van Mkondo (soos ons dorp deesdae bekend staan), strategies geleë tussen die swart en wit woon areas . Die gebedsgroep kom reeds vir baie jare elke Dinsdagoggend by mekaar. Oor kultuurgrense heen het ons hier saam gehuil, ons God se
aangesig gesoek oor die pyn en leiding in ons onderskeie gemeenskappe. Saam Sy Naam geprys as ons vir mekaar vertel van die Goeie gawes uit Sy hand.

Tannie Paddy vertel opgewonde dat sy volgende maand vir Therese in Somerset-Wes kom kuier. Ek en Therese het saam matriek geskryf, saam musiek as vak gehad en soms het ons saam op haar fiets,genaamd Griet, die afdraende afgejaag vanaf die hoerskool koshuis en dan die bultjie uitgestap NG Kerk toe, waar sy moes orrel oefen. Jare later het haar man wêrelde vir ons oopgebreek met sy Holistiese kyk na die lewe. Vandag tel hulle onder ons min vriende in die Kaap. Ons het nog nie die ander ontmoet nie.

Ons besoek aan Pa se portuur in Huis Immergroen, het ons verryk.

Teen die tyd is ons honger! Ek probeer ongesiens in hardloop by die Wimpy. Helaas! Ek moet by drie bekendes stop en vinnig verslag gee van ons Kaapse draai. Oud Pietie en hartsvriendin, Retha, het vroegoggend uit Pretoria via 'n Whatsapp foto’tjie, gespog met haar Piet Retief kleinkind in 'n Tuks universitieshempie. En hier by die Wimpy kan ek einste klein Milah se warm slaaplyfie, in haar tukshempie! 'n drukkie gee.

Ons drink ons koffie in die ry, op pad na Robbie, eiendomsagent. Ons het uiteindelik na vele oorwegings besluit om ons eiendom in Piet Retief van die hand te sit. Die ou Sweedse Sendingkerkie en huisie met sy skewe mure lê ons na aan die hart, maar ons glo dis tyd vir aanbeweeg.

Berna kuier met Lelanie en ek en Bertus ry na Leonard en Dagmar toe. Hulle was in die buiteland toe ons verlede jaar totsiens gesê het vir Piet Retief. Vrolik verras nooi hul ons in en vra uit. En vertel van die oggend se ontbyt met ander geestelike leiers in die dorp, en getuig van die gemeensaamheid, die eenheid. Ons het self 'n paar jaar gelede die maandelikse ontbyt bygewoon. Voordat ons groet, bid ons saam. Ek ervaar dat nog 'n stukkie van ons lewenspuzzle in plek val.

Die son begin sak toe ons voor Ma Alma se huis stilhou. Ons woorde is min. Hoe laat ry julle? Ons wil voor drie in die pad wees. 'n Laaste stywe druk. Mooi bly ma.

Nog is dit einde niet. Ons drink vinnig koffie met vriendin Karin. Dan ry vriend Hannes saam plaas toe om Bertus te help besluit oor ons hoenderhokke. Moet hul bly of ry? Intussen help Johann en Arina my om vir oulaas plante uit te haal in my pragtige tuin op Amsterdam. In die bakkie se ligte haal ons nog die laaste een uit; die bloublom struikie, die naam ken ons nie, maar ons het hom geërf uit ma Dinky se tuin. Ek wonder hoe hy gaan reageer op die lang nat Kaapse winters?

Terug in die dorp maak Bertus die Amarok vol brandstof. Ek hardloop oor die straat Nando’s toe vir 'n ‘lemon&herb’ hoendertjie. Die groot bestuurder herken my. Ons het graag hier geëet, al was ons dikwels die enigste blankes tussen luidrugtige Zoeloes. Dit het ons nie gepla nie. Ons is in Afrika. En dis lekker hier. En ek het al dikwels gefrustreerd gevoel as sommige Kapenaars sommer aanneem dat ons weggehardloop het van die ras spanning in die ‘noorde’. Dis nie die geval nie.

Jan kom eet saam aan die hoendertjie. Hy kuier nie lank nie. Groet. Kom kuier asb vir ons met jou mooi motor Jan! daar is nie potholes inni Kapie!

En so het die laaste dag in Piet Retief verloop. Toe ons naby middernag die volgende aand ons Napier huisie oopsluit, was dit vreemd. Nie onbekend nie, want dis ons pragtige meubels wat glim in die straat lig, ons eie twee honde wat ons stertswaaiend verwelkom. Maar 'n gemeenskap nog onbemind. Want ons ken hulle nie. Nog erger, hulle ken ons nie. Sal ons dalk nooit ken soos Piet Retief ons ken nie. Want geboortegrond het sy eie bekoring, herinner en troos Elra uit die Paarl.

By die neerpen van hierdie belewenisse het die emosies soms opgewel tot 'n knop in die keel, oorgeloop in stil trane. Treur ons oor die verlies aan 'n bekende beminde gemeenskap.
Oor wat was, en nooit weer sal wees nie.

Maar met hierdie skrywe wil hierdie Napierdorper sê: Dankie Piet Retief, ‘you served us well!’
Hoop julle kan dieselfde sê.

Begrafnis in Beeld