Wednesday 13 August 2014

Waar in die wêreld is Napier?


Waar in die wêreld is Napier?
n Storie van waar dit als begin het deur Carna van Zyl


Miskien het dit begin met swaer Willie se bekoorlike vertellings van sy grootword jare op Napier.

Hy en Elra het daardie winter op Amsterdam kom kuier, en terwyl Elra ou vriendskapsbande met skoolmaats by ‘n reunie optel, het ons soggens in die wintersonnetjie op die stoep gekuier en saans het ons sokker gekyk.

Want dit was 2010, Wêreldbeker sokker jaar. En die hele wye wêreld se aandag was gevestig op Suid Afrika. Terwyl die buitelanders wat hier was hulle ore toegedruk het vir ons raserige vuvuzelas, het die res voor hul TV’s gesit en kyk hoe Holland en Spanje dit uitspeel in die eindstryd.

Op Amsterdam plaas is ons wêreldjie maar klein, en kontak met die buitewêreld beperk tot Radio Sonder Grense, (wat n raak beskrywing!) tydskrifte soos Landbou Weekblad en Farmers Weekly, wat Bertus van sy pa hulle kry as hul klaar gelees het. Juis om ons kinders se wêreldjie groter te maak het ons oe toegeknyp en daardie dekselse dure skottel teen die kaggelskoorsteen laat vasskroef.

Watter van die media dit was kan ek nou nie meer onthou nie; maar, in die nawinter van 2010, hoor en lees ons die naam Napier raak.  Ek en Bertus kyk mekaar verbaas ongelowig aan. Napier is afsonderlik in ons altwee se gedagtes ge-“highlight”.  Ons gaan draai selfs by groot Ny-pi-eer in Nieu Zeeland, want watter Suid Afrikaner ken nie iemand wat landuit, die wye wêreld in is nie!  

Ons vingers eindig op die padkaart by Napier in die Suid-Kaap.  Nie te ver van Onrus af nie; ons sal  gaan kyk  wanneer ons saam met die Kaap familie in Desember daar vakansie hou.

En so ry ons vroeg op nuwejaarsdag 2011 Napier binne. Die steil straatjies is stil op hierdie Sondagoggend. Dit neem nie lank om die klein dorpie deur te ry nie. Ons is onseker. Wat doen ons hier? Ek voel verspot toe ek in stille gehoorsaamheid kaalvoet in ‘n klipperige straatjie afstap . Ons bid. Here, ons verstaan nie. Maar ons het U stem gehoor. Seën hierdie dorp en sy mense. En as ons lewenspad hier langs moet loop, wees die lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad.

Voor ons terug ry vra Berna om n foto by die dorpie se ingang te gaan neem. Ons draai terug. Stop oorkant die straat van ‘n monument, in die vorm van ’n ossewa. Opgerig in 1938 om die groot trek te herdenk

Ek hoor 'n Kerkklok lui.

Op die trappies voor die monument sit n jong man. Hy lyk gedaan. Die Nuwejaar uitsigloos na die sondes van die vorige aand. Op sy skoot le ‘n twyfelagtige tydskrif. Dan verskyn  'n bruin man op sy fiets. Donkerbroek, ligte hemp; netjies aangetrek. Hy sit sy fiets versigtig neer en bring ‘n Bybel te voorskyn. Dan gaan sit hy langs die blanke seun en hulle begin gesels.

In die motor van waar ons die toneel dophou, is dit doodstil. Ek voel na die kamera om die toneel  in beeld vas te vang. Laat sak dan my hande. Die oomblik is te heilig. Ons is diep geraak. Na n rukkie ry ons in stilte stadig terug.


Hoe die storie van Napier en sy mense, daar na aan die mees suidelike punt van donker Afrika, ons lewens gaan raak, sou net die toekoms leer.


 1 Januarie 2010 - 8:35 AM

5 Junie 2014 - 4:49 PM

Friday 1 August 2014

Die Mallemeule van die lewe


Die mallemeule van die lewe.
‘n Ode aan die ou plaashuis op Amsterdam deur Carna van Zyl

“Vir vyf geslagte het eers die Bührmanns en daarna die Van Zyls hier op Amsterdam hul lief en leed beleef.”

Ek lees die sin raak in ‘n e-pos wat Bertus vir die bure skryf. Hy is besig om te onderhandel oor die verkoop van Amsterdam, die grond wat hy as 16 jarige by sy oupa Bührmann geërf het.­­­

Dis die woorde,“lief en leed” wat my gedagtes stuur op ‘n “rollercoaster ride”. ‘n Glip-en-gly rit, of soos Retha dit noem: die mallemeule van die lewe.

Ek onthou duidelik my heel eerste besoek aan die ou plaashuis op Amsterdam. Die groot yster sleutel wat jou handpalm vol lê, het reeds verklap dat daar iets besonders wag. Ons het op die systoep ingekom. Dubbel houtdeure met gekleurde glaspaneeltjies. Sommiges vervang met ondeursigtige badkamerglas, en ek wonder, was dit die wind of was dit dalk humeure wat laat waai het?  Die deure het oopgemaak in ‘n ruim vertrek met hoë wit versierde, staalplafonne. Lig het oorvloedig in gestroom by twee groot hout skuifraamvensters. In die oorkantste muur het ek vasgekyk in ‘n swart gietyster kaggel, in die lengte versier met ‘n  ry groen teeltjies, alles omraam met stewige hout. Imposant.

Maar wat die grootste indruk op hierdie sewentienjarige, just-been-kissed meisiekind gemaak het, was die twee foto’s teen die binne muur. Twee jong mans, ernstig, in swart grys, lewensgroot in ovaal geraam. Oupa Bührmann se twee broers wat in die Anglo boereoorlog dood is, vertel my Bertus trots.

Alhoewel niemand op daardie tydstip in die huis gewoon het nie was die huis ten volle gemeubileer. Pragtige stewige ou erfstukke. Op die koolstoof in die kombuis het ‘n erde ketel gewag vir vuur en water. In die spenskas was asimmetries gesnyde blokke boerseep.

Met ma Dinkie se dood aan borskanker toe Bertus maar sewe was, het pa Bertus ‘n jaar of twee later met ma Alma, ‘n flukse boervrou van Panbult, getrou. Die huishouding op Amsterdam het tot stilstand gekom.

Van die werf onthou ek die twee boele, Louis en Lady. Hulle is beloon met bederf koekies en aandag omdat hul getrou oor die kleinbaas se erfporsie waghou.

 Agter die huis was reuse sipresbome waarin die duiwe gekoer het. Vredig.

Die tuin was effens verwaarloos, maar nie totaal aan die genade oorgegee nie. Bertus het met trots vertel dat haar tuin, ma Dinkie se trots was. Dan het hy ‘n vuilpienk gelapte tuinslang gevat en die gunsteling struike nat gelei. Veral die wit Bottlebrush boompie het ekstra water gekry. Die het glo wit geblom die Desember toe hulle Ma Dinkie begrawe het.

Dieselfde boompie het 21 jaar later bollend wit blommetjies verskaf vir die ruikertjie op die houtkissie van ons liewe Altus. Die vrug op ons liefde, ons eersteling, wat op dertien maande verdrink het in die gansdammetjie onderkant die huis.

Waarom onthou ek vandag net die leed? Waarom bly die lewenswiel vanoggend vashaak by die dal van doodskaduwee?

Waarom onthou ek die aand toe ons vol drome van ons wittebrood af, op die plaas terugkom. Onthou ek die verslaentheid toe die Isuzu se ligte op die eerste oes van Amsterdam val. Weggeslaan.  Vernietig deur ‘n haelbui.  ‘n Harde slag.

Ek onthou en my hart pyn, want ek kan skielik die leed so helder onthou, terwyl ek moet diep delf opsoek na die lief.

En natuurlik was daar soveel liefde! Na twee jaar se diensplig en salige student jare op die Puk en by die Pampoenboere op Potch, is ek en my skoolliefde getroud.

Later jare, as trotse vrou van die huis, sou ek grappenderwys vertel, dat ek daar, by my heel eerste besoek, besluit  het: Met die man wil ek trou, want in  hierdie pragtige huis, wil ek woon! 

Dit was vir my n groot voorreg om na ons troue, Januarie 1989, te begin skoonmaak en nesskrop op Amsterdam. Die nesskrop was maklik, want die nes was grootliks reeds geveer.

Vir die skoonmaak het ek genoeg gewillige bruin hande gehad. Opgewonde oor die nuwe Makoti op Amsterdam, het die veel ouer Shlezipi, my geduldig geleer. Onder andere hoe om die hout vloere te versorg. Ekstra hulp is van die statte laat kom om Amsterdam se rooi grond, stof en ou politoer van die vloerplanke af te skrop. Op hul knieë met water, seep en skropborsels; ook skerppunt stokkies, om al die vuiligheid in die gleufies tussen die vloerplanke uit te krap. Later die dag wanneer die lig gewaste planke droog was, is die Cobra vloerpolitoer mildelik aan gesmeer en oor nag gelaat om diep in die hout in te trek om dit te voed. Die volgende dag is die nederige taak voortgesit met sagte borsels en lappe. Die vloere is gepoets totdat dit glimmend blink. En heerlik vars ruik! ‘n Reuk so eie aan die lieflike plaashuis, wanneer die liefdestaak twee keer per jaar gedoen is; Desembermaand voor Kersfees en in April vir ‘Good’.

En tussendeur was dit vir ons ‘n vreugde om vriende en familie in ons huis te verwelkom. Dikwels het ons Sondae na kerk aangesit om die groot Oregon tafel,  ekstra riempies stoele nader gehaal, sodat elke Stapelberg en aanhangsel ‘n sitplekkie het. Skaapboud met bykosse en ‘n wortelkoek  vir nagereg. Min dinge was vir my so bevredigend, het my so ryk laat voel!

Al die baie hout in die huis was geverf. Deur- en  vensterrame, dado-, prent- en vloerlyste, kaggels. Met baie lae, deur die jare, in verskillende kleure. Gelukkig nie die hout plafonne nie! Die verf het Bertus en ek begin afskuur, die hout het ons skoon gemaak en met Woodoc behandel om die lieflike warmte van natuurlike grein en kleur uit te bring.

Teen die eetkamer muur het ons die twee gryse broeders aangevul met ‘n foto gallery van die voorgeslagte. In ‘n kartondoos, in die spens, tussen ou boeke het ek twee kosbare foto’s gevind.  Van pa Bertus se oupa en pa uit Swellendam omgewing. Dit het ons laat raam, en saam met foto’s uit my ouerhuis, het ons ‘n redelik volledige prentjie van ons herkoms gehad.

As deel van die foto collage het ons die oorspronklike plaas kaart en transport laat raam en opgehang. En was ons nie trots om aan kuiergaste die pragstuk te wys nie! Die Plaasgrense, die berg en waterstrome met die hand, in kleur, geteken. Die 1769 morgen 149 vierkante roeden uitgemeet, reeds in 1897.

En nou, Winter 2014, beplan ek hoe om die foto’s, saam met al ons meubels veilig te verpak vir die groot trek vanaf Piet Retief terug oor die Drakensberge, Wes-Kaap toe.

Saam met die aardse besittings verpak ek ook versigtig aan die kosbare herinneringe en belewenisse van ons lewe hier op Amsterdam.

 Daarom dat ek besluit het om hierdie essay te skryf.

Eerstens vir myself, om te onthou om te onthou.

En te help verwerk aan die baie botsende emosies, die oppe van opgewonde oor ‘n nuwe begin op Napier, dan weer die affe van afskeid neem van ons huis. Afskeid neem van my blomtuin met sy Iceberg rose. Van ons groentetuin waar ons soveel tyd spandeer het. Afsny van die omgewing, sy mense en die bekendheid van die klimaat.

Skryf ek, ook vir ander. Familie wat saam afskeid neem. Vir ons toekomstige nageslag. Om te weet  waar ons vandaan kom. Om nie te vergeet nie. Om te leer uit die verlede; van die sondes van die vaders, en van vergifnis, herstel en genesing. Van die oppe en affe in die lewe.

En van Genade. Sodat ek hierdie essay kan afsluit met die mooi woorde uit die 33 vertaling: 

Die meetsnoere het vir my in mooi plekke geval.