Die mallemeule
van die lewe.
‘n Ode aan die ou plaashuis op Amsterdam deur Carna van Zyl
“Vir vyf geslagte het eers die Bührmanns en daarna die
Van Zyls hier op Amsterdam hul lief en leed beleef.”
Ek lees die sin raak in ‘n e-pos wat Bertus vir die bure
skryf. Hy is besig om te onderhandel oor die verkoop van Amsterdam, die grond
wat hy as 16 jarige by sy oupa Bührmann geërf het.
Dis die woorde,“lief en leed” wat my gedagtes stuur op ‘n
“rollercoaster ride”. ‘n Glip-en-gly rit, of soos Retha dit noem: die
mallemeule van die lewe.
Ek onthou duidelik my heel eerste besoek aan die ou
plaashuis op Amsterdam. Die groot yster sleutel wat jou handpalm vol lê, het
reeds verklap dat daar iets besonders wag. Ons het op die systoep ingekom.
Dubbel houtdeure met gekleurde glaspaneeltjies. Sommiges vervang met
ondeursigtige badkamerglas, en ek wonder, was dit die wind of was dit dalk
humeure wat laat waai het? Die deure het
oopgemaak in ‘n ruim vertrek met hoë wit versierde, staalplafonne. Lig het oorvloedig
in gestroom by twee groot hout skuifraamvensters. In die oorkantste muur het ek
vasgekyk in ‘n swart gietyster kaggel, in die lengte versier met ‘n ry groen teeltjies, alles omraam met stewige
hout. Imposant.
Maar wat die grootste indruk op hierdie sewentienjarige, just-been-kissed meisiekind gemaak het,
was die twee foto’s teen die binne muur. Twee jong mans, ernstig, in swart grys,
lewensgroot in ovaal geraam. Oupa Bührmann se twee broers wat in die Anglo boereoorlog
dood is, vertel my Bertus trots.
Alhoewel niemand op daardie tydstip in die huis gewoon het nie was die huis
ten volle gemeubileer. Pragtige stewige ou erfstukke. Op die koolstoof in die
kombuis het ‘n erde ketel gewag vir vuur en water. In die spenskas was
asimmetries gesnyde blokke boerseep.
Met ma Dinkie se dood aan borskanker toe Bertus maar sewe
was, het pa Bertus ‘n jaar of twee later met ma Alma, ‘n flukse boervrou van
Panbult, getrou. Die huishouding op Amsterdam het tot stilstand gekom.
Van die werf onthou ek die twee boele, Louis en Lady.
Hulle is beloon met bederf koekies en aandag omdat hul getrou oor die kleinbaas
se erfporsie waghou.
Agter die huis was
reuse sipresbome waarin die duiwe gekoer het. Vredig.
Die tuin was effens verwaarloos, maar nie totaal aan die
genade oorgegee nie. Bertus het met trots vertel dat haar tuin, ma Dinkie se trots
was. Dan het hy ‘n vuilpienk gelapte tuinslang gevat en die gunsteling struike
nat gelei. Veral die wit Bottlebrush
boompie het ekstra water gekry. Die het glo wit geblom die Desember toe hulle
Ma Dinkie begrawe het.
Dieselfde boompie het 21 jaar later bollend wit blommetjies
verskaf vir die ruikertjie op die houtkissie van ons liewe Altus. Die vrug op
ons liefde, ons eersteling, wat op dertien maande verdrink het in die
gansdammetjie onderkant die huis.
Waarom onthou ek vandag net die leed? Waarom bly die lewenswiel
vanoggend vashaak by die dal van doodskaduwee?
Waarom onthou ek die aand toe ons vol drome van ons
wittebrood af, op die plaas terugkom. Onthou ek die verslaentheid toe die Isuzu
se ligte op die eerste oes van Amsterdam val. Weggeslaan. Vernietig deur ‘n haelbui. ‘n Harde slag.
Ek onthou en my hart pyn, want ek kan skielik die leed so
helder onthou, terwyl ek moet diep delf opsoek na die lief.
En natuurlik was daar soveel liefde! Na twee jaar se
diensplig en salige student jare op die Puk en by die Pampoenboere op Potch, is
ek en my skoolliefde getroud.
Later jare, as trotse vrou van die huis, sou ek grappenderwys
vertel, dat ek daar, by my heel eerste besoek, besluit het: Met die man wil ek trou, want in hierdie pragtige huis, wil ek woon!
Dit was vir my n groot voorreg om na ons troue, Januarie
1989, te begin skoonmaak en nesskrop op Amsterdam. Die nesskrop was maklik, want
die nes was grootliks reeds geveer.
Vir die skoonmaak het ek genoeg gewillige bruin hande
gehad. Opgewonde oor die nuwe Makoti op Amsterdam, het die veel ouer Shlezipi,
my geduldig geleer. Onder andere hoe om die hout vloere te versorg. Ekstra hulp
is van die statte laat kom om Amsterdam se rooi grond, stof en ou politoer van
die vloerplanke af te skrop. Op hul knieë met water, seep en skropborsels; ook
skerppunt stokkies, om al die vuiligheid in die gleufies tussen die vloerplanke
uit te krap. Later die dag wanneer die lig gewaste planke droog was, is die
Cobra vloerpolitoer mildelik aan gesmeer en oor nag gelaat om diep in die hout
in te trek om dit te voed. Die volgende dag is die nederige taak voortgesit met
sagte borsels en lappe. Die vloere is gepoets totdat dit glimmend blink. En
heerlik vars ruik! ‘n Reuk so eie aan die lieflike plaashuis, wanneer die
liefdestaak twee keer per jaar gedoen is; Desembermaand voor Kersfees en in
April vir ‘Good’.
En tussendeur was dit vir ons ‘n vreugde om vriende en
familie in ons huis te verwelkom. Dikwels het ons Sondae na kerk aangesit om
die groot Oregon tafel, ekstra riempies
stoele nader gehaal, sodat elke Stapelberg en aanhangsel ‘n sitplekkie het. Skaapboud
met bykosse en ‘n wortelkoek vir
nagereg. Min dinge was vir my so bevredigend, het my so ryk laat voel!
Al die baie hout in die huis was geverf. Deur- en vensterrame, dado-, prent- en vloerlyste,
kaggels. Met baie lae, deur die jare, in verskillende kleure. Gelukkig nie die hout
plafonne nie! Die verf het Bertus en ek begin afskuur, die hout het ons skoon
gemaak en met Woodoc behandel om die lieflike warmte van natuurlike grein en
kleur uit te bring.
Teen die eetkamer muur het ons die twee gryse broeders aangevul met ‘n foto gallery van die voorgeslagte. In ‘n kartondoos, in die
spens, tussen ou boeke het ek twee kosbare foto’s gevind. Van pa Bertus se oupa en pa uit Swellendam
omgewing. Dit het ons laat raam, en saam met foto’s uit my ouerhuis, het ons ‘n
redelik volledige prentjie van ons herkoms gehad.
As deel van die foto collage het ons die oorspronklike plaas
kaart en transport laat raam en opgehang. En was ons nie trots om aan kuiergaste
die pragstuk te wys nie! Die Plaasgrense, die berg en waterstrome met die hand,
in kleur, geteken. Die 1769 morgen 149 vierkante roeden uitgemeet, reeds in
1897.
En nou, Winter 2014, beplan ek hoe om die foto’s, saam
met al ons meubels veilig te verpak vir die groot trek vanaf Piet Retief terug
oor die Drakensberge, Wes-Kaap toe.
Saam met die aardse besittings verpak ek ook versigtig
aan die kosbare herinneringe en belewenisse van ons lewe hier op Amsterdam.
Daarom dat ek
besluit het om hierdie essay te skryf.
Eerstens vir myself, om te onthou om te onthou.
En te help verwerk aan die baie botsende emosies, die
oppe van opgewonde oor ‘n nuwe begin op Napier, dan weer die affe van afskeid
neem van ons huis. Afskeid neem van my blomtuin met sy Iceberg rose. Van ons
groentetuin waar ons soveel tyd spandeer het. Afsny van die omgewing, sy mense
en die bekendheid van die klimaat.
Skryf ek, ook vir ander. Familie wat saam afskeid neem.
Vir ons toekomstige nageslag. Om te weet waar ons vandaan kom. Om nie te vergeet nie.
Om te leer uit die verlede; van die sondes van die vaders, en van vergifnis,
herstel en genesing. Van die oppe en affe in die lewe.
En van Genade. Sodat ek hierdie essay kan afsluit met die
mooi woorde uit die 33 vertaling:
Die meetsnoere het vir my in mooi plekke geval.