n Storie van waar dit als begin het deur
Carna van Zyl
Miskien het dit begin met swaer Willie se bekoorlike vertellings van sy grootword jare op Napier.
Hy en Elra het daardie
winter op Amsterdam kom kuier, en terwyl Elra ou vriendskapsbande met
skoolmaats by ‘n reunie optel, het ons soggens in die wintersonnetjie op die
stoep gekuier en saans het ons sokker gekyk.
Want dit was 2010,
Wêreldbeker sokker jaar. En die hele wye wêreld se aandag was gevestig op Suid
Afrika. Terwyl die buitelanders wat hier was hulle ore toegedruk het vir ons
raserige vuvuzelas, het die res voor hul TV’s gesit en kyk hoe
Holland en Spanje dit uitspeel in die eindstryd.
Op Amsterdam plaas is ons
wêreldjie maar klein, en kontak met die buitewêreld beperk tot Radio Sonder
Grense, (wat n raak beskrywing!) tydskrifte soos Landbou Weekblad en Farmers
Weekly, wat Bertus van sy pa hulle kry as hul klaar gelees het. Juis om ons
kinders se wêreldjie groter te maak het ons oe toegeknyp en
daardie dekselse dure skottel teen die kaggelskoorsteen laat vasskroef.
Watter van die media dit
was kan ek nou nie meer onthou nie; maar, in die nawinter van 2010, hoor en
lees ons die naam Napier raak. Ek en Bertus kyk mekaar verbaas
ongelowig aan. Napier is afsonderlik in ons altwee se gedagtes
ge-“highlight”. Ons gaan draai selfs by groot Ny-pi-eer in Nieu
Zeeland, want watter Suid Afrikaner ken nie iemand wat landuit, die wye wêreld
in is nie!
Ons vingers eindig op die
padkaart by Napier in die Suid-Kaap. Nie te ver van Onrus af nie;
ons sal gaan kyk wanneer ons saam met die Kaap familie in
Desember daar vakansie hou.
En so ry ons vroeg op
nuwejaarsdag 2011 Napier binne. Die steil straatjies is stil op hierdie
Sondagoggend. Dit neem nie lank om die klein dorpie deur te ry nie. Ons is
onseker. Wat doen ons hier? Ek voel verspot toe ek in stille gehoorsaamheid
kaalvoet in ‘n klipperige straatjie afstap . Ons bid. Here, ons verstaan nie.
Maar ons het U stem gehoor. Seën hierdie dorp en sy mense. En as ons lewenspad
hier langs moet loop, wees die lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad.
Voor ons terug ry vra
Berna om n foto by die dorpie se ingang te gaan neem. Ons draai terug. Stop
oorkant die straat van ‘n monument, in die vorm van ’n
ossewa. Opgerig in 1938 om die groot trek te herdenk
Ek hoor 'n Kerkklok lui.
Op die trappies voor die
monument sit n jong man. Hy lyk gedaan. Die Nuwejaar uitsigloos na die sondes
van die vorige aand. Op sy skoot le ‘n twyfelagtige tydskrif. Dan verskyn
'n bruin man op sy fiets. Donkerbroek, ligte hemp; netjies aangetrek. Hy
sit sy fiets versigtig neer en bring ‘n Bybel te voorskyn. Dan gaan sit hy
langs die blanke seun en hulle begin gesels.
In die motor van waar ons
die toneel dophou, is dit doodstil. Ek voel na die kamera om die toneel
in beeld vas te vang. Laat sak dan my hande. Die oomblik is te heilig.
Ons is diep geraak. Na n rukkie ry ons in stilte stadig terug.
No comments:
Post a Comment