Geskryf deur Carna van Zyl
20 Augustus 2015
... se verkeer spoed voor my verby. Ek sit agter groot
glas mure. Daar is groot verskeidenheid restaurante en koffie winkels in die
middestad waaruit ek kon kies, maar vanoggend val die keuse op The Roast. 'n
Bietjie te modern met glas, chroom en leer; en selfs bietjie koud na my smaak.
Maar ek maak my tuis by die toonbank, reg op die straat. Die uitsig is perfek!
Langs my sit 'n yuppie met 'n blink dun labtop. Die
brilraam op sy neus net so dun en blink. Uit sy ore hang klankkabeltjies, hy is
in 'n ander wêreld. Regs van my neem 'n vrou plaas. Ek het haar sien aankom, in
swart geklee, hare bottel rooi met 'n pers skynsel. Met silverblink juwele.
Baie daarvan; armbande aan beide gewrigte. Om haar nek 'n versameling goed wat
hang. Vele vingers met ringe. Sy bestel swart koffie en lees vir 'n rukkie
koerant. Dan maak sy twee oproepe. Ek hoor hoe sy kliente meedeel dat hul
juweelstukke klaar en gereed is om afgehaal te word. Nou maak dit sin; “a
walking advertisement!”
Die diens is goed, my cuppachino verskyn oomblikke nadat
ek dit bestel het. Bedien in 'n roesbruin dikwand koppie. Die skuimkop getuig
van 'n geoefende hand, met 'n bykans perfekte tulp versier. Ek proe versigtig.
Heerlik! Terwyl ek stadig teug aan die ryk romerige bederf, vervorm die tulp in
iets wat soos 'n protea lyk. Ek kry lag vir myself: jy sien gesigte blomboer se
vrou!
Vanoggend loop my beker oor.
Ek en Berna is net na nege weg uit Napier. Bertus wou
graag deel in die bederf dag, maar op die plaas word die fondasies gegooi vir
die nuwe blomstoor. En Donderdae is bedrywig met laaste blombestellings wat
moet uit voor die naweek. Ons pak dus die 170 km sonder hom aan, dankbaar dat
hy vroegoggend die ergste modder van die Xtrail afgewas het. Ek is effens
gespanne, ek is nog nie gemaklik met die skiereiland se baie paaie nie.
Maar oppad glimlag die Overberg gul met goud geel canola
lande. Die damme blink blou en die heuwels rus sag groen met gars en koring.
Net na Boontjieskraal opstal sien ons 'n groot trop bloukrane - langs die N2
staan fotograwe gefokus met lang lense.
Toe Sir Lowrys pas ons veilig oor die berg bring, groet
Valsbaai vriendelik. Ons is nou lank genoeg in die Kaap om te weet hierdie
windstil sonnige dag is nie 'n gegewe nie, en moet waardeer word. En ons doen!
Kaapstad, die Moederstad wag ons in.
En hier sit ek nou, veilig, midde haar woel en werskaf,
hier langs een van haar hoof are, wat blink motors, toerbusse,
afleweringstrokke heen en weer voer. Op teen die berg waar Buitengracht
Kloofnek word, of af, waar dit via die N1 of N2 gebruikers wegvoer Noorde toe.
Haar kinders, op straat voor my,is verteenwoordigend van ons diverse samelewing.
Oorkant die straat stap 'n mama, baba knus op haar rug vasgeknoop, met nog 'n
peutertjie aan die hand ook. Sy het 'n helder groenbont rok aan. Die kopdoek
van die selfde lap hoog om haar kop gebind, soos 'n tulband, 'n kroon.
Vir hierdie bepalende onderhoud het Berna haar uitrusting
goed deurdink; besluit op 'n groenbont Afrika lap vir 'n top. Gister is daar gou
'n baadjie gemaak van ripstop. Vir die knope moes ons vanoggend oppad op
Somerset Wes by die lap winkel stop, die laaste een eers vasgewerk toe
Tafelberg al vir ons knipoog!
As vanoggend se onderhoud goed verloop word Berna deel
van Buitengracht se voetgangers. Voetganger, want met vier wiele soek jy vir parkering en nog harder vir (genoeg!)
parkeer geld.
Ek drink die uitsig in. Na regs troon Fedisa se rooi
gebou hoog bo Tafelberg uit. Ek hou die studente wat kom en gaan, nuuskierig dop,
sommige met groot sakke en ek kan my verbeel watter skeppings daaruit te
voorskyn kom. Ek glo my Berna kind is gereed om haar verke te sprei. Wat 'n
voorreg om dit hier in ons land se mode hoofstad te kom doen.
My beker loop oor. Van dankbaarheid.
Oor my Vader wat ons 'n jaar gelede na Napier gelei, en daar gevestig het.
Wat ons in staat stel om ons twee talentvolle kinders hier te laat leer.
Dankbaar, omdat die meetsnoere vir ons in lieflike plekke val.
Wat ons in staat stel om ons twee talentvolle kinders hier te laat leer.
Dankbaar, omdat die meetsnoere vir ons in lieflike plekke val.
My hart loop oor van vreugde oor Wian wat vandag verjaar.
Al kou hy harde bene. Toetse, take en praktiese klasse weerhou ons vandag van
saamkuier. Maar ons sal darem die pakkie kudu biltong gaan aflaai vir laataand eet,
alleen voor die boeke.
Voor my is Buitengracht verdeel in twee eenrigting
strate, een bergop, die ander een af.Die breë middelman doen diens as broodnodige
parkeerarea en is hier beplant met plataan bome. Op hierdie wintersoggend
vertoon hul grys- wit, blaarloos met die stekelrige balletjies swart afgeëts
teen die blou lug. Wit en grys meeue fladder op en 'n paar wat op die ligpaal
voor my sitplek vind, herinner my dat Kaapstad 'n hawestad is.
'n Lang donker man stap verby, steek die straat oor.
Swart baard. Hy is geklee in 'n kuitlengte bruin rok, donker kouse met swart
toerygskoene. 'n Westerse K-way baadjie beskerm hom teen die koue. Ek verwag dat sy kop bedek sou wees? Wat is sy
storie? Sien hy homself as 'n Suid Afrikaner?
Hy herinner my aan Mnr Badat, van Kempville in Piet
Retief, waar ons almal wol gekoop het. Waar Berna soms shweshwe gekoop het. My
ma sê hy vra gereeld na ons welstand. Wat maak dat hulle dikwels 'n lewe maak
uit die verkoop van lappe. Selfs in Pretoria
by die grote Metro, moes ons al dikwels op 'n Vrydag middaguur voor
dooi-mans-deur omdraai.
Ek bestel water. Dit word bedien saam met 'n glas, ys en
twee skyfies suurlemoen. Net soos ek daarvan hou. Op die deurskynend glas
bottel lees ek. Mountain Falls. Ph 7. Sparkling. Perfectly balanced. Bottled at
source Overberg Hermanus. 'n Gedetailleerde annalise van die minerale inhoud
volg.
Minder as 'n meter van my af, anderkant die glas gordyn,
stap 'n man verby. Stadig. Hy stop. Buk
versigtig, sodat sy aardse besittings wat hy op sy rug dra, hom nie van balans
af trek nie. Hy tel 'n platgetrapte sigaretstompie op.
Ek weet nie wat om te dink nie. Bid? Maar wat vra ek?
Op die groot glas skuifdeure, wat outomaties oopskuif toe
'n jong paartjie mekaar vir middagete in The Roast ontmoet, lees ek: This area
is under 24 hour camera surveillance for your protection.
Vader, hoe bou mens 'n brug oor die verskillende wêrelde?
My foon blieb. Berna se Whattsapp lees: "ek is
uit" en die “emoticon” gesiggie lyk moedeloos; 'n sweetdruppeltjie op die
voorkop. Bertus antwoord flink “wat van in?”
Ek hou haar dop toe sy die besige Buitengracht oorsteek.
My moederhart bid geluidloos: Seën ons Here God, seën
Afrika!