Saturday 22 August 2015

Vroue in voorskote

Geskryf deur Carna van Zyl.
Opgedra aan Ben en Retha.
Junie 2015



Iewers met die draai van die seisoen dink ek: Ek hou van voorskote. Baie. Ek wil iets daaroor skryf. Ek wil vertel van vroue i(e)n voorskote wat my inspireer.  

Herfs groei tot by Meimaand. My verjaarsdag maand. Ook Moedersdag maand, en om dit te vier, nooi vriendin Michelle my na 'n Saterdagoggend tee met die tema: Once upon a Apron. Nog 'n “toe- val- Lig” geleentheid? Vroue arriveer toegevou in 'n verskeidenheid voorskote. Voorskote so uiteenlopend soos die vroue self. Al die vroue, met die uitsondering van Michelle, is vir my totaal onbekend, want al herken ek teen die tyd van die gesigte by OCF, ken ek niemand by die AGS gemeente in Bredasdorp nie.

Ek word dit al amper gewoond. Om as 'n vreemdeling tussen onbekendes in te stap; asem in, skouers regop. Vir vanoggend “kruip ek bietjie weg” agter my dogter se voorskoot. Of soek ek “ondersteuning” by haar funksionele leer band met silver gespes voorskoot? Want wie anders kan spog met 'n voorskoot wat deur hul dogter gemaak is?

Ek kon kies en keur tussen die voorskote in my Napier huisie, meesal agter die kombuisdeur, maar soms argeloos, saans oor die haak in ons kamer. Onnodig daar. Soms vind ek dit in die gang waar ek haastig daarvan ontslae raak, om gaste glimlaggend, vol selfvertroue te verwelkom in 'n skoon wit bloes!

Sal ek die gunsteling groen Johnson werkersklas een dra? Die ry glimlaggende Madiba gesigte op die soomlyn, verkondig dat ek myself met dankbaarheid vereenselwig met die nuwe Suid Afrika. Die Johnson se  tekortkoming is sy gebrek aan 'n sak, so handig vir my selfoon, wat ek tog so kan verlê. Maar vir die oggend tee is sy kleur nie heeltemal gepas nie.

My blou plastiek een? Nee, hy makeer 'n band vir vasknoop agter die rug.
Die het afgeskeur toe Bertus hom gedra het met die laaste bees wat op Amsterdam bewerk is. 'n Handige voorskoot omdat hy net met 'n klam lap skoongevee kan word. Diè was drie dekades gelede 'n geskenk van 'n kunsmisagent, uit Amerika! aan 'n bloedjong pasgetroude boervroutjie.

Die blou-met-wit-kolletjies-een sou kleurgewys goed pas. Maar 'n kritiese oog sal 'n paar vlekke raaksien. 'n Borrieblerts wat hardnekkig klou,  vertel van 'n lekker lamskerrie. Die vaalgewaste voorkant verklap dat diè linne-katoen mengsel die gunsteling agter die kombuisdeur is. 'n Ruim buidelsak voor waarin alles saam gedra kan word, is 'n groot pluspunt. Hy vou so lekker om my lyf, sag om my heupe waar my klam hande so op 'n drafstap afgevee kan word.

Vir die oggendtee, wen Berna se voorskoot. Sy kuier in Stanford en ek stuur 'n boodskap. Kan ek jou voorskoot leen? Ja natuurlik! kom die antwoord deur die lug. Ek sien hy is vuil, en bekla die feit oor die lug voor ek die koekie Sunlightseep gryp. 'n Voorskoot moèt vuil wees ma! kom die antwoord net so vlug. Waar kom sy aan haar wysheid, dink ek terwyl ek die voorskoot ophang om droog te word.

My kreatiewe kind werk nog aan die konsep van die dienlike kakiegroen voorskoot. Sy het haar inspirasie gevind op “Carpenter’s Daughter” se “Instagram account”. Die bande van leer knip voor op die skouers vas, kruis oor die rug en knip weer in die sye vas, met blink metaalknippe. Sodoende kan die lap gedeelte, van dubbelle “ripstop”, maklik gewas word. Die sak voor moet nog ontwerp word, met 'n leer sakkie vir haar snoeisker, 'n funksionele ontwerp; die nuutste Adanna produk.

Die Satedagoggend voorskote vertel elke sy eie storie. 'n Halflyf een, bedruk met blomme en voels uit Suid Afrika se ryk fauna en flora, laat my verlang na my ma en haar soortgelyke een agter die kombuisdeur in verre Piet Retief. Sommiges uit ouma se trouseaukis, versier met fyn borduurwerk, is te kosbaar vir gebruik.  Die wat nederig vertel van vele fondsinsameling pannekoeke wat gebak is vir kerk en skool, hou vir my 'n besondere bekoring in. Oorkant my glimlag Isabel mooi met pienk lippe toe sy die prys kry vir die wen voorskoot; 'n pienk-polkadot-bont een wat vrolik uitnooi:”Kiss the cook”. En ek las by, “and spice up your life!”

Langs my sit Michelle, sommer 'n voorskoot by 'n vriendin geleen vir die geleentheid. “Eintlik moes ek my Rooikruis een aangetrek het” dink sy hardop.  Verlede jaar, toe ons nog blink nuut in die Kaap was het sy my opgekommandeer om te help pannekoek verkoop by die Agri Megaweek (dis nou ons Nampo, vir die wat nie weet nie!). Omgord met 'n wit voorskoot met rooi kruisie oppie bors, het ek pannekoeke help verkoop aan honger langasems wat die Voet van Afrika kom aandurf het. Michelle; die eerste vrou in die Overberg wat ons in haar huis ontvang het. Michelle, wat ons bederf het met eetgoed, terwyl wederhelf, John ons rondom 'n koppie boeretroos  gerus gestel het. Daardie dag, toe hierdie twee baie benoude Piet Retiewers hond se gedagtes gekry het oor die onbesonne plaaskopery in die Wes Kaap. Dankie Michelle dat jy saam met John vir ons die deur oopgemaak het in die Overberg.

Waar kom my liefde vir voorskote vandaan? Dalk van die vroue agter voorskote?

My ouma Annie se voorskoot was deel van elke dag se uitrusting. Sy het gehou van kwaliteit; Young Clinic leer skoene, Ruth Reed rokke. Pappa se jongste sussie moes die rokke in die stad koop, en Mamma moes dit dan verstel om ouma se kort ronde lyfie te pas. Mamma moes ook die voorskoot maak wat die dure rokke beskerm. Want ouma kon lekker eet, en was dus daagliks in die kombuis agter die koolstoof. Hierdie oorrokke is gemaak van dienlike katoen, en reslappies in die laslapkombers op Berna se bed hou my herinneringe hieraan helder.

Nog 'n voorslagvrou agter 'n voorskoot, is skoonsus Riza. Laasmaand
geniet hulle 'n welverdiende ruskans op Onrus. Hennie verjaar en “Chris en Penny” klim in hul Volkswagen en ry gou oor vir middag koffie. Die vakansiehuisie kombuisie is knap, maar Riz het kind en kraai gevoed. Met twee vleise, want die spyskaart moet darem opweeg met hul swaargewig wyn! – alias die verjaarsdagman. Met ons aankoms word daar nog lang student-stories onthou rondom die einste swaargewig uit die Noord Kaap. Ek is nog te nuut in die wynwêreld om die Rooie na waarde te skat, maar ek sien 'n tiptop kombuis en waardeer 'n vasvat vrou. Want ek weet Riz het ewe nonshalant haar voorskoot oorgegooi en gou die skottelgoed gewas terwyl haar gaste nog om die tafel kuier, sodat sy kan regstaan met skoon koppies vir koffie en melktert, vir haar kleinboet.

Dan is daar nog 'n vasvat vrou, Gail Baadjies, wat daagliks in haar Johnsons Workwear, Eenvoud Boerdery geborduur op die rug, op Breedevlei voorvat. Die vriendelike vrou wat weet van blomme. Wat nederig en met groot geduld vir hierdie inkommers geleer het van Proteas en Banksias. Van snoei en pluk. Van pak en versend sodat die puntenerige agente tevrede glimlag. Ek eer jou Gail, omdat jy die span lei met toewyding. Omdat asseblief en dankie so deel van jou taal is, selfs op die teksboodskappe tussen jou en Bertus.

Terwyl ek hier skryf verlang ek na Retha. Ek onthou die Sondagmiddag feesmaaltye op Confidence. Sy het ons aangevoer om saam-saam in die plaaskombuis 'n feesmaal voor te berei vir die troepe. Ek dink aan tannie Carolien se pampoenkoekies, gereeld op die spyskaart, wat 'n beskerming vereis het teen die borrel van daai karamelstropie, èn die olie vir die braai slag. Net voor dat ons aansit, het Retha kamer toe verdwyn, waar sy haar voorskoot verruil het vir 'n paar roep-rooi lippe. Dan het sy haarself elegant langs Ben tuis gemaak, en saam met ons mans het ons gesels oor kerkwees, gedroom oor die Koninkryk en ons uitdagend mooi land se probleme saam-saam opgelos. Kosbare tye.

My voorskoot storie moet nou einde kry.


Die grootste verassing van die Voorskoot oggend is dat ek toe nog iemand ken! Cecilia is net so verbaas as ekself, en kom groet gou.  Ons het vir Danie en Cecilia ontmoet terwyl ons nog besig was om bokse uit te pak. Hulle loop voor by OCF en hul begeerte is om die Overberg families te sien in geestelike volwassenheid. Sodat Sy Koninkryk kan kom.

Op die oggend  is Cecilia die gasspreker, en ek sien vir die eerste keer hoe 'n voorskootsak baie effektief gebruik word vir die saamdra van die blokkie elekrtonika met die kabeltjies van die mikrofoon om haar kop. Sy borrel oor van die hoop wat in haar leef. Sy bedien ons  vanuit haar erfenis as dogter van die Allerhoogste. Wanneer haar afrikaanse woorde te kort skiet, pleit sy spontaan in engels dat ons nie moet toelaat dat hierdie gebroke wêreld ons  definieer nie. Ons is na Sy Beeld geskape, leef in die herskeppingskrag van sy Seun!

In ander half jaar het hierdie voorloop vrou vir my soveel geleer van ons Vader se  Koninkryk, volg ek in verwondering terwyl ek ontdek watter hoop Sy roeping inhou. Vir my.

En jou.

En omdat my Millie huishulp haar enkel gebreek het, bevind ek my die afgelope paar weke o so gereeld met my voorskoot voor die wasbak. Stoot ek die stofsuier rond. Staan ek gereeld by die wasgoedlyn. En oordink die volmaakte verlossing van Yahweh. Vul die heerlikheid van sy roeping my met ontsag. En dink ek met dankbaarheid aan Yahushua wat op die vooraand van sy hooste prys, sy bokleed uitgetrek het, 'n doek om sy lyf gebind het, en sy volgelinge se vuil voete gewas het…
                                                                               
***

Aanvanklik het die voorskootstorie hier geeindig. Maar ek het die gevoel gehad dat die laaste nog nie gesê is nie, asof 'n waarheid my nog ontglip. Ek het daaroor gedink. Gebid. En toe kom 'n groot waarheid; die gevaar van my voorskoot.

Ek besef hoeveel waarde ek heg aan “besig wees”. Die gevaar van my voorskoot is dat ek my identiteit daarin vind. Ek is deel van 'n wêreld wat werke beloon. 'n Samelewing wat waarde heg aan 'n Purpose driven life. Performance. Production.  Selfs in die kerk bewys ons graag ons geloof met dade.

Aan die einde van 'n besige dag voel ek goed. Waardevol. Nog meer so as een van my gesinslede 'n waarderende opmerking sou maak oor 'n vars gestrykte bondel wasgoed, 'n geurige bord kos, en sommer nog 'n ekstra sterretjie by as daar 'n bord kos is vir die straatkinders wat so gereeld kom vra. Maar wanneer is dit genoeg? Ek kan nog nie met Mev Spreuke 31 kers vashou nie! En as ek dink aan my bekwame vriendinne wat in die korporatiewe wêreld hul deel doen, daar waar 'n voorskoot totaal onvanpas is, dan wonder ek of ek nie my gawes begrawe nie. En dan kruip onvergenoegdheid saans, stil-stil saam met my tussen die lakens in. En laat my met moedelose gedagtes wakker lê in die nanag.

Ek stoei, want ek laat toe dat hierdie wêreld my definieer.

Die waarheid maak vry. Ek kan nie my identiteit vind in my voorskoot nie. Of in enige iets anders nie. Soos Luther van ouds wil ek dit vasspyker aan my hart. Dit gaan nie oor wat jy doen nie, Carna! Ek kan net leef vanuit my verhouding met my Skepper. My dag deurbring in verbondenheid met Hom. Amen.

'n Paar Sondae terug vra Danie wat die profetiese woord oor jou lewe is. Ek moes diep dink voordat dit helder terugkom. Amper 20 jaar gelede in 'n klein donker kantoortjie agter die Bybelsentrum in Piet Retief se hoofstraat, het Ben vir my gebid: “You are a worshipper, not a worker”.

Mag dit so wees. Met of sonder my voorskoot.

No comments:

Post a Comment