Tuesday 2 September 2014

My seun se deel van die Mallemeule rit.

My seun se deel van die Mallemeule rit.
deur Carna van Zyl

Wian is die eerste een wat moes totsiens sê vir Amsterdam. Terwyl die res van ons Maandag aand voor die televisie ontspan hoor ek hom in sy kamer pak. Nie lank nie of hy sluit by ons aan, en laat ongeërg weet dat sy kas amper leeg is. Laataand loer ek in by sy kamer, die twee rooi Vryheid Landbou toksakke staan bultend vol en wag om gelaai te word.

Dinsdagoggend bly ek alleen tuis besig met pak en huishoudelike reëlings tref, vir die week wat ons in die Kaap is. Op die stoep stap ek by die twee honde verby. Hul kyk skaars op. Lê net in hul band, asof hul siek is. Ek is geraak deur die kinders se twee Jack Russells se fyn aanvoeling. Was dit Wian se gepakte rooi sakke? Of is dit Mbongani wat die Xtrail was? Asof hul ons gesprekke van die laaste weke kon verstaan, wéét die twee getroue vriende; die huismense is oppad.

In die verby draf gesels ek met hulle; toemaar julle twee, ons kom terug om julle te kom haal!

Die res van die gesin is in die dorp. Bertus vir nog 'n besoek aan die boekhouer, om die laaste dokumente vir die koop te kry. Wian om totsiens te sê vir sy twee pare oupas en oumas. Hoe geseënd is ons nie! Albei pare het al hul 80ste verjaarsdae gevier en is steeds so sterk en gesond dat hulle in hul eie huise, in Piet Retief woon. Ons kon so sonder moeite ons lewens met mekaar deel, dalk daarom is ons beplande trek Kaap toe, nie vir hul maklik nie. Toe hul tuis kom kan ek sien die tata sê was, en is, nie vir Wian maklik nie. Wanneer sien hy hulle weer?

Ek is so dankbaar Wian kan deel wees van die koop van Breedevlei!

Ek glo immers dat hy die eerste deur vir ons oopgemaak het in die Kaap. Hy het vasberade besluit hy wil by UCT gaan studeer. Ek het die voorreg gehad om die eerste saadjie hiervan eerste hands te beleef. Terug in 2010 het ons nog tuisskool gedoen en as deel van Lewensoriëntering moes hy 'n beroep kies en navorsing doen oor die voorvereistes en nodige opleiding daarvoor. Toe Wian 'n foto van die pragtige ou geboue van UCT sien, het hy ons meegedeel dat hy daar gaan studeer. Hierdie onderwyser ma het met haar klein dorpie mentaliteit by haarself gedink : dis goed om te droom, en dis maar net 'n fiktiewe beroep... Terwyl ek nou hier skryf besef ek in tranerige dankbaarheid dat ek dat ek my klein geloof moet bely!... Want wonder bo wonder (wonder óp wonder) het Wian Januarie 2014 gehoor dat hy keuring by UCT gekry het en na 'n suksesvolle eerste ses maande is hy oppad terug Kaap toe. Met 'n Amsterdam skaapboud en tjoppies vir dierbare Shirley wat haar huis vir hom oopgemaak het, 'n klipgooi van die universiteit af. 'n Ruim kamer met 'n ekstra bed (vir wanneer Berna kom kuier!) en 'n venster wat op 'n helder dag soos 'n skildery van Tafelberg lyk.

Terwyl Wian daar, aan die voet van die berg, sy voete moes vind, het Bertus in lang telefoon gesprekke hom op hoogte gehou van die nog langer proses om Amsterdam verkoop te kry. Dis immers ook hul erfporsie waarvan hul afskeid neem. Maar watter voorreg vir pa en seun om saam te onderhandel oor 'n nuwe begin in Napier!


2 comments:

  1. Skoon hartseer saam met julle oor die oopak en gaan. Julle gaan die Kaap geniet....en ek gaan nog lees oor al julle planne en lewe ini Kaap.
    Dankie vir deel.

    ReplyDelete
  2. Goeiemôre Carna. Ek is pa van 'n familie wat kyk na Napier. Ek het julle gegoogle na 'n artikel in die Platteland oor tuisonderrig. Mag ons met julle gesels oor moontlikhede in Napier area? Groete, Cobus van Dyk

    ReplyDelete